Darren Visser van Saldanha takel Ashley Esau van Vredenburg in ‘n Top-12-half-eindstryd op die Boland-stadion, wat Saldanha met 25-23 gewen het.

Saldanhabaai-rugbyspan dring deur na eindstryd

Darren Visser van Saldanha takel Ashley Esau van Vredenburg in ‘n Top-12-half-eindstryd op die Boland-stadion, wat Saldanha met 25-23 gewen het.

WELLINGTON – Die Saldanhabaai-rugbyklub het Vredenburg se Burg Boys in ‘n spannende Sanlam Boland Top-12-half­eindstryd die afgelope Saterdag (21 November) op die Boland-stadion net-net met 25-23 geklop.

Die wedstryd het groot belangstelling van rugbyondersteuners van die Weskus en Boland gelok. Onder die Vredenburg-ondersteuners was Charles en Annie Diedericks, wat die Burg Boys al jare volg. Sandra Rudolf, ‘n oud-Wellingtonner wat as tiener na Vredenburg verhuis het, het ook haar steun aan die span toegesê. Die voormalige speler Koos Talmakkies het gesê die span het gewis die potensiaal om te wen.

Saldanhabaai se ondersteu- ners, onder wie Donovan Jacobs en Katriena Kammies, was ewe optimisties oor hul span se kanse om die eindstryd te haal.

Die Burg Boys het die eerste tien minute die oorhand gehad, hoewel Gregan Papier twee strafskoppe misgeskop het. Saldanhabaai het die doellyn eerste oorgesteek, maar die drie is deur die televisiebeampte afgekeur.

Die Burg Boys het daarna die telling met ‘n langafstand- onderskepdrie deur Jeandre Jacobs geopen, wat onder die pale gaan druk het. Papier het die doelskop oorgestuur om die telling 7-0 te maak, wat ook die rustydtelling was.

Saldanhabaai veg terug

Ná rustyd het Ruan Kleinsmith, die regtervleuel, nog ‘n drie vir die Burg Boys gedruk. Papier se doelskop was mis, waarna Van Rensburg met ‘n strafskop vir Saldanhabaai die agterstand tot 12-3 verklein het. ‘n Strafskop deur Papier in beseringstyd het die telling tot 15-3 vergroot. Burg Boys se kaptein, Samuel Greyling, is met ‘n geelkaart gestraf.

Saldanhabaai het vroeg in die tweede helfte teruggeveg toe Ambijorn Vraagom ‘n drie gedruk en Van Rensburg die doelskop oorgeskop het.

Ná ‘n geelkaart aan Sinethemba Nkolomba, die linkervleuel, het Papier die Burg Boys se voorsprong met ‘n strafskop tot 18-10 vergroot.

Saldanhabaai het egter aanhou druk. Sy slot Mikyle Hanse het ‘n drie gedruk, wat Van Rensburg verdoel het om die telling tot 18-17 te verklein.

Feghon-Leigh Snyders, die los-skakel, het Saldanhabaai daarna met ‘n skepskop die eerste keer in die wedstryd laat voorloop. Met die telling op 20-18 het Saldanhabaai voortgebou op sy momentum en sy slot Brenvin Marais het in die 76ste minuut nog ‘n drie gedruk. Die telling was toe 25-18.

‘Weskus-rugby is gesond’

Die Burg Boys het in die laaste minute hard aangeval en Saldanhabaai onder druk geplaas. In beseringstyd het die skeidsregter Saldanhabaai vir onkantspel gestraf. Die Burg Boys het die geleentheid benut, waarna sy kaptein, Ruan Kleinsmith, ‘n drie in die linkerhoek gedruk het. Die telling was 25-23, maar Papier se doelskop was mis. Saldanhabaai het die wedstryd met twee punte gewen.

Dit was die derde keer vanjaar dat dié twee Weskusspanne mekaar die stryd aangesê het.

Volgens Thyronne Williams, Vredenburg se afrigter, was dit een van die beste Sanlam Boland Top-12-halfeindstryde waaraan sy span deelgeneem het. Hy het gesê die feit dat twee Weskusspanne teen mekaar te staan gekom het, het die beste in albei spanne na vore gebring.

Williams het sy spelers vir hul volgehoue poging geprys – veral in die laaste minute toe hulle onder groot druk was, maar tot die einde aangehou  het.

“Ek is trots op my span. Ek wil Saldanhabaai ook lof toeswaai vir die positiewe wedstryd, wat weer eens bewys het hoe gesond Weskus-rugby is.”

Ander uitslae: Super-8: Central Wolves 48-14 Mamre; Roses United 0-104 Walker Bay. Super-10: La Motte 32-5 Young Eagles Bonnievale; Thistles 27-26 Blue Birds De Doorns. Super-16: Evergreens Wellington 46-36 Progress Suurbraak; Rawsonville 64-21 Temperance. Sanlam Boland Top-12: Roses United 43-3 Safcol.

Wedstrydtoekennings: Vuma-drie van die dag: Jeandre Jacobs (Burg Boys). Rainbow Powerhouse-oomblik: Jeandre Jacobs (Burg Boys). Afrisam- duikslag van die dag: Emile Booysen (Saldanhabaai). Sanlam Confident-speler van die dag: Feghon-Leigh Snyders (Saldanhabaai).

Wedstrydbepalings Saterdag 28 November: Central Wolves-vroue t. Walker Bay-vroue; Roses United t. Saldanhabaai.

LEES OOK: Naelbytrugby lê voor met stryd tussen Saldanhabaai en Vredenburg.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 26 November 2026
    Weslander E-Edition – 26 November 2026

Gift this article