WELLINGTON – Komende Saterdag (21 November) maak Saldanhabaai en Vredenburg geskiedenis deur die eerste twee Weskusspanne te word wat teen mekaar in die halfeindstryd van die Sanlam Boland Top-12-toernooi op Boland-stadion om 15:00 speel.
Die 2025 Sanlam Boland Top-12-kampioen, Saldanhabaai, het in sy laaste uitspeelwedstryd op verrassende wyse met 27-28 teen Invincible van Vredendal op die Transnet-stadion vasgeval, maar steeds bo aan die punteleer geëindig.
Saldanhabaai, een van die suksesvolste Boland-rugbyspanne sedert die instelling van die Top-12, het die toernooi al drie keer verower. Hy berei hom nou vir ‘n vierde aanslag op die titel voor en is een van die mees ervare spanne in die toernooi.
Vredenburg se Burg Boys het ná sy terugslag van 28-33 teen Roses United op Pelekaanpark in Wellington terug gebons en sy oorblywende drie wedstryde oortuigend gewen, terwyl hy teen Robertson Town met 36-36 gelykop gespeel het. Teen Delicious NW het die Burgboys een van sy beste wedstryde weg van die huis gespeel en die Rooibostee-manne behoorlik na asem laat snak toe hy die wedstryd met 52-32 wen en sy plek in die halfeindstryd verseker.
Die pad tot halfeindstryd
Die vraag is nou of Thyrone Williams en sy manne weer vir Danie de Villiers en sy Saldanha- baai-span in toom kan hou, soos in hul laaste Grooruitdaagstryd op Vredenburg?
Robertson Town het in die tweede helfte van sy wedstryd teen die Lillies met nuwe vuur gespeel en die Lillies se voorsprong van 25-17 in ‘n 45-25 oorwinning omskep. Roses United het ook die Perlemoenboere tot nadenke gelaat toe hy hul doppie met ‘n naelbyt oorwinning van 30-26 klink, wat vir die Burgboys ‘n tweede plek op die punteleer besorg het.
Terwyl Safcol United en Worcester Villagers (beide voormalige kampioene) in ‘n taai stryd gewikkel was, het die Appelboere die Hoenderboere se vere stelselmatig vir ‘n 43-10-oorwinning gepluk. Met dié sege het Bella Vista se kans op ‘n tweede plek soos mis voor die son verdwyn.
Bella Vista, wat Wesbank voor sy tuisskare met sy blitzkrieg in die laaste 20-minute van die wedstryd van die veld gespeel het, se oorwinning van 60-46 het te laat gekom, maar dié span kan tevrede met sy vertoning voel.
Ervaring en onvoorspelbaarheid
De Villiers en Williams kom komende Saterdag vir die derde keer teen mekaar te staan – in hul grootste uidaging nog, die Sanlam Boland Top-12-halfeindstryd.
Nie een van hulle kan bekostig om foute te began nie en die een wat sy kanse beter benut sal die vrugte daarvan pluk.
Saldanhabaai se ervaring kan vir hom die knoop deurhaak, maar die Burg Boys se onvoorspelbaarheid is een van sy gevaarlikste wapens.

Die telbord sal van die eerste tot die 80ste minuut met spanning dopgehou word. Daar sal net een wenner wees, maar wie?
Ander uitslae: Robertson Town 45-25 Abbotsdale; Roses United 30-26 Hawston; Delicious NW 32-52 Vredenburg; Wesbank 46-60 Bella Vista; Saldanhabaai 27-28 Invincible; Safcol United 43-10 Multisure Worcester Villagers.
Wedstrydbepalings: Top-12:
Saterdag 21 November:
10: 09:30: Thistles t. Blue Birds, De Doorns; 11:30: La Motte t. Young Eagles, Bonnieval (B-Veld). Super-8: 11:00: Central Wolves t. Mamre (B-Veld); Walkerbay t. Roses United (A-Veld). Super-16: 11:00: Evergreens Wellington t. Progress, Suurbrak (B-Veld); 15:30: Rawsonville t. Temperance (A-Veld). Top-12: 15:00: Saldanha t. Vredenburg (A-Veld); 17:00:
Roses United t. Safcol (A-Veld).
LEES OOK: Saldanhabaai looi Saffies met oortuigende oorwinning




