Hoewel die onlangse verhoging in die sardynkwota effense verligting vir die plaaslike visbedryf bring, meen die Velddrif-sakekamer die dorp se langtermyn- ekonomiese groei sal uiteindelik afhang van hoe plaaslike ondernemings saamwerk en nuwe geleenthede skep.
Dié boodskap het sterk na vore gekom tydens die sakekamer se ledevergadering op 18 Junie, waar Nedbank se hoofekonoom, Nicky Weimar, plaaslike sake-eienaars toegespreek het oor die ekonomiese uitdagings waarmee Suid-Afrikaanse ondernemings tans te kampe het.
Volgens Johnny da Silva, die voorsitter van die Velddrif-sakekamer, het die gesprek nie net waardevolle ekonomiese insigte gebied nie, maar ook beklemtoon plaaslike ondernemings kan nie bloot net wag vir oplossings van buite nie. “Sakeondernemings ondergaan tans geweldige kostedruk. Stygende insetkoste, administratiewe laste, hoë diensgeld en verbruikers wat al versigtiger bestee, plaas ondernemings onder toenemende druk,” sê hy.
Die sakekamer meen staatsinstellings en diensverskaffers behoort voortdurend na maniere te kyk om kostedruk te verlig en ekonomiese groei te ondersteun, maar beklemtoon plaaslike ondernemings moet ook hul deel doen. “Een van die duidelikste boodskappe uit die vergadering was dat ons mekaar beter moet begin ondersteun.
“Velddrif se ekonomie kan nie deur een sektor of een enkele onderneming gedra word nie. Ons moet as dorp saamstaan.”
Om dié rede het die sakekamer reeds begin met gesprekke om ondernemings in Velddrif, Laaiplek en Port Owen nader aan mekaar te bring en meer gesamentlike bemarkingsinisiatiewe te ontwikkel.
Volgens Da Silva is die doel om besoekers aan te moedig om langer in die gebied te vertoef, meer ondernemings te besoek en hul besteding oor die hele dorp te versprei.
“Ons wil hê besoekers moet ontdek Velddrif bied baie meer as net een of twee bekende bestemmings. Hoe langer mense hier vertoef, hoe groter is die voordeel vir restaurante, winkels, verblyf, toerisme-ondernemings en diensverskaffers.”
Da Silva glo ekonomiese aktivering word benodig. “Ons moet ophou om soos individuele ondernemings te dink en soos een bestemming begin optree.”
Hoewel die visbedryf steeds ‘n hoeksteen van die plaaslike ekonomie bly, glo die sakekamer Velddrif beskik oor groot potensiaal as ‘n sentrum vir toerisme, gasvryheid, kleinsake, die mariene-ekonomie en leefstylbelegging.
“Velddrif het nie net simpatie nodig nie,” sê Da Silva. “Ons het planne, belegging, samewerking en uitvoering nodig.
“Die dorp se toekoms lê daarin dat ons saamwerk en saam aan ‘n sterker plaaslike ekonomie bou.”





