Johannes Frans (84), beter bekend as Oom Gus, is ‘n bekende en geliefde gesig by die ingang van die parkeerterrein by Laaiplek se Spar. Met sy trekklavier bring hy sedert 2007 vrolike musiek en opregte vriendelikheid aan die gemeenskap.
Weslander het met Oom Gus gesels om meer te hoor oor die man agter die musiek. Op die vraag: “Wie is Oom Gus eintlik?” het hy sonder huiwe- ring geantwoord dat hy ‘n gelowige man is wat daagliks die woorde van Filippense 4:5 uitleef: “Verbly julle in die Here.”
Volgens hom is ‘n glimlag, bedagsaamheid en vriendelikheid aansteeklik. Dit gee hom groot vreugde om elke mens wat verby hom beweeg, vriendelik te groet en die Here se seën oor hulle uit te spreek.
Met sy kenmerkende humorsin het hy bygevoeg hy is ‘n “1942-Chev-model”, “een waarvoor onderdele nie meer beskikbaar is nie”. Oom Gus het in Piketberg grootgeword en langer as drie dekades op verskeie skepe gewerk, waar hy die voorreg gehad het om die wêreld te verken. Hy het geen formele musiekopleiding nie en speel bloot op gevoel en gehoor.
Elke Saterdag neem hy sy plek by die Laaiplek Spar in. Hoewel hy nog kan loop, gebruik hy sy oorlede vrou se rolstoel om sy instrumente en pakkies mee te vervoer. Oom Gus is die pa van drie kinders, van wie een reeds oorlede is. Hy is ook ‘n oupagrootjie, en sy vierde geslag agterkleinkind is agt jaar oud. Hy erken met ‘n glimlag dat hy baie kleinkinders het. “Ek het só baie dat ek nie kan onthou hoeveel nie,” vertel hy laggend. Vir Oom Gus is die lewe eenvoudig, ‘n lied wat ‘n mens moet aanhou sing. “Vergeet van die slegte dinge rondom jou en in die wêreld. Fokus op die goeie. Ons leef onder die genade van God en hoef nie bang te wees vir wêreldse boosheid nie,” sê hy.
Hy sien elke dag daarna uit om mense te groet en te seën en sê hy beplan om “solank die Here my spaar” aan te hou musiek maak en sy Skepper daardeur te loof en te prys.





