Kleuter oorleef nag in bos


‘n Tweejarige seuntjie van Bitterfontein, wat die afgelope naweek vir langer as ‘n dag naby Eendekuil vermis was, is opgespoor en was dalk nie die nag alleen nie.

Die Weskus het saam gebid dat Givonne Klaase, wat Saterdag (25 April) op ‘n plaas tussen Eendekuil en Porterville vermis geraak het, ongedeerd teruggekry word. Ten spyte van ‘n grootskaalse soektog deur die polisie en ander nooddienste, plaaswagte en gemeenskapslede, was dit sy ma, Gabrielle Klaase (24), en pa, Ivan Fortuin (34), wat hom Sondag 26 April kilometers ver van die plaaswerf af gekry het.

Givonne het Vrydag (24 April) saam met sy ouma al die pad van Bitterfontein af op Die Oliene-plaas tussen Eendekuil en Porterville kom kuier. Hulle sou twee weke by sy tante kuier.

Die volgende dag het hy saam met ‘n groep kinders, almal jonger as twaalf jaar oud, gaan speel. Met hul terugkeer was hy nie by nie en die kinders het aanvanklik gesê hulle het naby die huis gespeel. Givonne is toe by die polisie as vermis aangegee, wat tot die grootskaalse soektog gelei het. Die plaaswag, naburige boere, gemeenskapslede en die kinderbeskermingseenheid (FCS) het help soek. Selfs hommeltuie is ingespan, maar geen spoor is van die kind gekry nie.

Sy ouers, wat eers om 11:00 gehoor het hy is weg, het eers laatmiddag van Bitterfontein af (sowat 250 km ver) op die plaas aangekom. “Ek was stukkend. Ek het nog tot vroeg die oggend buite geloop en soek. My kind was iewers in die don- ker. Ek het in my binneste gevoel dat hy nog iewers naby is.”

Die soektog is Sondagoggend met selfs ‘n snuffelhond uit die Kaap voortgesit.

Givonne se pa se voorgevoel het hulle in ‘n groepie na ‘n spesifieke gebied gelei. Klaase is oortuig daarvan dat Gi- vonne uit die bosse tevoorskyn gekom het omdat hy haar stem herken het toe sy hom geloop en roep het.

Sy het skielik net ‘n gewaarwording gekry, soos iemand wat haar op die regterskouer tik. “Toe ek in daardie rigting omkyk, sien ek hom aangeloop kom.” Sy vermoed hy het weggekruip.

“Ek het op my knieë gesak en net geroep, ‘Givonne, Givonne’. Ek was so bly om hom te sien.”

Ivan het hom opgeraap en huis toe gedra. “Ek het nie veel aardse goed nie, maar vir my kind is ek baie lief,” het hy aan Weslander gesê.

Mense bespiegel nou Givonne was dalk nie die nag alleen nie, maar was moontlik saam met ‘n ander mens of mense. “Hy kan nie alleen so ver geloop het nie,” het Gabrielle Sondag, kort nadat Givonne gekry is en na die Radie Kotze-hospitaal in Piketberg gebring is, gesê. “Hy is gelukkig niks aangedoen nie. Dit is net die skrape op sy beentjies, armpies en nek soos hy deur die bosse geloop en die takke hom gekrap het.”

Givonne was egter stom ná sy nag van angs. Toe hy gevra is of hy ‘n sny brood wil hê, het hy net sy koppie geknik en behoorlik aan die brood gesmul, het Gabrielle vertel.

Hy wou egter nie ‘n woord sê nie.

Gabrielle neem niemand kwalik nie; ook nie die kinders wat eers Sondagoggend met die waarheid uitgekom het dat hulle baie verder van die huis af gespeel het as wat hulle aanvanklik gesê het nie. Givonne wou glo nie deur ‘n draad klim nie, waarop hulle hom agter gelaat het.

Albei ouers is net uiters verlig dat hul kosbare seuntjie gevind is. Hulle is bitter dankbaar teenoor almal wat help soek het en sê hul kind gaan nooit weer onder hul oë uit nie.

Die gemeenskapsaktivis Billy Claasen het geld ingesamel sodat die gesin Maandag kon teruggaan Bitterfontein toe.

Die polisie se kinderbeskermingseenheid (die Eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings) ondersoek die saak verder.

Die ingang na Die Oliene-plaas. Foto: Alida Buckle
Ivan Fortuin by die Radie Kotzé-hospitaal op Piketberg.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article