Nes Gouelokkies moes klein Givonne Klaase (2) van Bitterfontein op ‘n vreemde plaas in die donker na sy ma loop en soek het.
Dit is ‘n wonderwerk dat hy die volgende dag, ongedeerd – behalwe vir skrape op sy kaal beentjies, armpies en nek – na sy ma toe aangestap gekom het.
Ons glo so maklik daar is niks meer goeds in die lewe nie, petrol is duur, kos raak onbetaalbaar, en dan gebeur daar ‘n werklike wonderwerk.
‘n Onsigbare hand raak aan ‘n ma se skouer sodat sy nie verbystap en haar vermiste kleuter, wat geluidloos probeer om by haar uit te kom, miskyk nie.
Want Givonne was so getraumatiseer deur die nag se donkerte en koue dat hy nie eens “Mamma” of “Pappa” kon uitkry nie; net aan sy pa kon vasklou.
“As hy maar net ‘n kameratjie om die nek gehad het,” is een Weslander-leser se kommentaar op ons Facebook-blad. Sal ons ooit weet presies wat het met Givonne gebeur het, nadat hy Saterdagoggend van die groep plaaskinders geskei geraak het?
Wat gaan deur ‘n tweejarige se kop as alles stil raak, met net die veld en bome om jou? Hoe hard kan ‘n kleuter om hulp skree? Het iemand hom gewaar en opgetel, hom darem vir die nag warm gehou? Sy ma glo nie hy kon so ver op sy eie loop nie.
Al wat saak maak, is dat hy veilig tuis is – grootliks ongedeerd.





