Ivan Fortuin voor die Radie Kotzé-hospitaal op Piketberg. Foto: Alida Buckle
Ivan Fortuin voor die Radie Kotzé-hospitaal op Piketberg. Foto: Alida Buckle

‘n Tweejarige seuntjie wat stoksielalleen in die donker op ‘n plaas naby Eendekuil rondgedwaal het, se ouers het hom vanoggend (Sondag 26 April) kilometers ver van die plaaswerf af gekry.

Klein Givonne Klaase het Vrydag 24 April saam met sy ouma al die pad van Bitterfontein af op die Oliene-plaas tussen Eendekuil en Porterville kom kuier.

Saterdag 25 April het hy saam met ‘n groep kinders, almal jonger as twaalf jaar oud, gaan speel. Met hul terugkeer was hy nie by nie en het die kinders nie geweet waar hy hom bevind nie.

Die Missing Children-plakkaat van Givonne Klaase (2).

Hy is as vermis by die polisie aangegee, wat tot ‘n grootskaalse soektog gelei het. Die plaaswag, naburige boere en lede van die kinderbeskermingseenheid (FCS) het ook help soek.

Selfs hommeltuie is ingespan, maar van Givonne was daar geen spoor nie.

LEES OOK: Tweejarige seuntjie vermis ná verdwyning op plaas naby Eendekuil

Oliene-plaas
Givonne Klaase en sy ouma het Vrydag 24 April op die Oliene-plaas tussen Eendekuil en Porterville kom kuier.

Sy ma, Gabrielle Klaase (24), het eers laatmiddag op die plaas aangekom.

“Ek was stukkend. Ek het nog tot vroeg die oggend buite geloop en soek. My kind was iewers in die donker. Ek het dit in my binneste gevoel. Hy is nog hier.”

Sondagoggend is die soektog voortgesit met selfs ‘n snuffelhond van die Kaap.

Dit was egter sy ma en pa, Ivan Fortuin (34), wat op hom afgekom het.

Gabrielle het terwyl hulle al ure op die plaas geloop en soek het terwyl hulle sy naam roep, skielik die gevoel gekry dat iemand haar op die skouer tik. Toe sy in daardie rigting kyk, het sy Givonne sien aangeloop kom.

Dankbaar vir hulp

“Ek het op ky knieë gesak en net geroep, ‘Givonne, Givonne’. Ek was so bly om hom te sien.”

Ivan het hom opgeraap en hom huistoe gedra. “Ek het nie veel aardse goed nie, maar vir my kind is ek baie lief,” het Ivan gesê.

Hy is bitter dankbaar teenoor almal wat gehelp soek het, en sê sy kind gaan nooit weer onder sy oë uit nie.

Gabrielle neem niemand kwalik nie. Ook nie die kinders wat eers vanoggend met die waarheid uitgekom het dat hulle baie verder van diehuis af gespeel het as wat hulle aanvanklik gesê het nie.

Albei ouers is net uiters verlig dat hul kosbare seuntjie gevind is. Nou begin die pad na herstel.

Hoewel hy net sigbaar skrape op sy beentjies, arms en nek het, was dit ‘n uiters traumatiese ervaring.

Die polisie se kinderbeskermingeenheid ondersoek die saak.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article