Die skielike verdwyning van Lehenco Thomas is iets waarmee sy familie steeds worstel. Thomas (27) is in Maart as vermis aangemeld en daar is tot op hede geen teken van hom nie.
Volgens sy niggie Fransiena Sias het Thomas op die plaas Uitkyk in Hopefield gewerk. Hy is op Maandag 2 Maart na die plaas toe om sy werk terug te kry, maar het nooit teruggekeer nie.
Sias weet nie wat presies kon gebeur het nie en meen dis nie soos Thomas om só lank weg te bly van sy kinders nie.
“Ons het nooit weer van Lehenco gehoor nie. Sy kinders is baie geheg aan hom en vra elke dag waar hy is. Dit is moeilik vir ons om te verduidelik. Ons bly maar sê hy kom môre. Ons wil hom net veilig terug hê. Hy het ‘n swart sweetpak broek aangehad, ‘n wit hemp en wit Addidas-tekkies met ‘n swart baadjie,” vertel Sias.
Die Hopefield-polisie bevestig dat Thomas deur sy ma as vermis aangemeld is en met verdere ondersoek is dit vasgestel dat hy laas op die Uitkyk-plaas gesien is.
Kapt. Gotlieb Adams van die Hopefield- polisie sê die voorval word deur die Hopefield-polisie ondersoek en verskeie leidrade is opgevolg, maar sonder enige sukses.
“Soektogte is deur die polisie, buurtwag en die gemeenskap gedoen. Die polisie-soek- en reddingspan se honde-eenheid is ingespan, sowel as hommeltuie van die polisie wat gebruik is om sekere areas te fynkam, maar dit het niks opgelewer nie.”
Die Vredenburgse soek- en reddingspan is ook betrokke by die soektog en hoop vir Thomas se veilige terugkeer.
Adams sê die ondersoek gaan steeds voort en vra enigiemand met inligting om die Hopefield-polisie of die naaste polisiekantoor te kontak.





