Om enige organisasie te laat funksioneer, kan mense nie in isolasie, asof op eilande, aan dieselfde projek werk nie. Dit lei tot misverstande en verkeerde persepsies oor mekaar se rolle en waarmee elke “eiland” besig is.
Daarom is die sameroepende rol wat die Saldanhabaai-sekuriteitsinisiatief (SBSI) speel om al die rolspelers in die gebied byeen te bring ‘n bron van hoop vir werklike en volhoubare verandering. Dit is ‘n voorreg om deel te wees van ‘n forum waar staatsdepartemente direk kan luister na nooddienspersoneel en wetstoepassingsbeamptes se ervarings op grondvlak.
Só word die breër konteks geskep waar- binne elke rolspeler daagliks hul dienste verrig, en word daar gefokus op gebiede waar hande oor en weer gevat kan word.
Dit het daartoe bygedra dat ‘n tyd soos Paasnaweek, wat tradisioneel gekenmerk is deur noodlottige motorongelukke weens dronkbestuur en ‘n toename in misdaad, in werklikheid ‘n daling in noodlottige voorvalle getoon het.
Weens verbeterde samewerking en verskeie projekte, onder meer die aanstel van menseredders, was daar ook gedurende die Desember-feestyd geen verdrinkings in die Saldanhabaai- munisipale gebied nie.
Stadig maar seker begin die visie en dryfkrag van die jong Joey Pieters, koördineerder van die SBSI, momentum kry. Rolspelers wat inspring en “saamspeel” kan almal bevestig dat daar iets betekenisvol aan die Weskus aan die ge- beur is, as antwoord op die misdaadgolf wat die gebied sedert 2023 meegesleur het.



