Die karkas van ‘n dooie boggelrugwalvis het Maandagaand op die Goue Myl-strand naby die Flagship-parkeergebied in St. Helenabaai uitgespoel.
Die ontbindende karkas hou gesondheidsrisiko’s in aangesien dit gasse kan vrystel wat gevaarlik vir mense en troeteldiere kan wees. Inwoners word daarom gemaan om weg te bly van die walvis.
Volgens Tereza Burger, woordvoerder van die Saldanhabaai-munisipaliteit, is die voorval reeds aangemeld. “Die departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing is gekonsulteer en monsters sal geneem word. Daarna sal die munisipaliteit die karkas hanteer soos dit nodig geag word,” sê sy.
Onbekende strandgangers het intussen ‘n boodskap in die sand geskryf: “We love you Blue.” Wetenskaplikes meen walvisse spoel om verskeie redes op strande uit, insluitend siekte, beserings, ouderdom of probleme met hul oriëntering.
Menslike faktore soos geraasbesoedeling in die see en botsings met skepe kan ook bydra, terwyl walvisse soms per ongeluk in vlak water vasgekeer raak en nie weer die oop see kan bereik nie.
Die boggelrugwalvis is nie ‘n bedreigde spesie nie en daar is na raming sowat
130 000 wêreldwyd. Hulle kan tot 17 meter lank word en is bekend vir hul indrukwekkende spronge uit die water en hul kenmerkende “walvisliedere”, wat oor groot afstande gehoor kan word. Hulle onderneem jaarliks lang migrasies tussen koue voedingsgebiede en warmer broeigebiede.
Die owerhede sal voortgaan om die situasie te monitor en die publiek op hoogte hou.





