Weslander verskaf weekliks ‘n kort blik op die vorige week se misdaadgebeure in sy versprei­dings­gebied met behulp van kapt. Tania Helfrich, ‘n distrikswoordvoerder vir die Weskus-polisie:

• Clanwilliam – Wat blyk menslike oorskot te wees, is op Donderdag 2 April in die Clanwilliam-omgewing gevind. Die beendere is naby ‘n bos ontdek waar beplanners besig was om ‘n nuwe staproete uit te lê.

• St Helenabaai – ‘n Afpersingsklagte is die afgelope Saterdag (11 April) by die polisie in St. Helena­baai aangemeld. ‘n 39-jarige man beweer hy het ‘n telefoonoproep ontvang waarin die beller R3 000 “beskermingsfooie” per werksvoertuig per maand eis vir voertuie wat op sy perseel geparkeer staan. Die beller het glo gedreig om die voertuie en klaer te skiet indien betaling nie gedoen word nie.

St. Helenabaai – Grantham Keever (25) het Maandag (13 April) in die Vredenburg-landdroshof verskyn nadat hy glo sy 42-jarige ma Saterdagaand (11 April) gedreig en blykbaar met ‘n skêr en ‘n graaf probeer aanval het.

Piketberg – ‘n 35-jarige man sterk tans in die Tygerberg-hospitaal in Kaapstad aan nadat sy meisie, Johanna Swarts (53), hom glo die afgelope Vrydag (10 April) met ‘n mes in die nek gesteek het. Swarts het Maandag in die Piketberg-landdroshof op aanklag van poging tot moord verskyn.

Saldanha – Sowat 25 boerbokke is tussen 2 tot 7 April op ‘n plaas in die Middelpos-omgewing gesteel. Die klaer sê sy het die bokke op 2 April in die veewagter se sorg gelaat, maar op Dinsdag 7 April kon sy nie die diere of die veewagter opspoor nie.

Langebaan en Malmesbury – Tussen Sondag 29 Maart en Saterdag 4 April is sowat 40 Springbokke op ‘n plaas in die Langebaan-omgewing gesteel en nege merinoskape is terselfdertyd op ‘n plaas in die Malmesbury-omgewing gesteel.

Porterville – Die 31-jarige Corney Isaacs is op Sondag 12 April omstreeks 04:10 op die R44-pad tussen die De Tuin- en Middelpos-plase dood aangetref. ‘n Saak van strafbare manslag word ondersoek.

Vredenburg – ‘n Hokkie is Sondag (12 April) in Robbenstraat, Witteklip, aan die brand gesteek. Niemand is beseer nie. Die saak word ondersoek.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 28 May 2026
    Weslander E-Edition – 28 May 2026

Gift this article