“Al gaan ek ook deur ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie, want U is met my; U stok en U staf, dié vertroos my.”
Vir Marco Abrahams (47) en sy vrou, Annelisse (50), het hierdie woorde uit Psalm 23 werklik betekenis gekry, veral tydens ‘n kankerbewusmakingstaptog wat hulle in Oktober verlede jaar onderneem het.
Die egpaar het twee seuns, ‘n dogter en drie kleinkinders, en hul gesin het die afgelope ses jaar deur intense uitdagings gegaan. Hul huis in Vredenburg het verskeie kere aan die brand geslaan, sonder enige duidelike oorsaak. Terselfdertyd het Annelisse gedrag begin toon wat vir hulle onverklaarbaar was.
“Dit was asof sy demonies aangeval is,” het Marco vertel.
Hy sê hulle was destyds geestelik onkundig en het nog nie hul harte vir Jesus gegee nie. Die opeenhoping van vreemde en traumatiese gebeure het hul huishouding onder groot druk geplaas.
“Daar was ‘n stadium dat ons selfs gedink het daar is ‘n soort vloek oor ons uitgespreek,” het hy bygevoeg.
In 2022 het Marco en Annelisse egter tot bekering gekom en hul lewe aan die Here toegewy.
Volgens Marco het hulle begin saam bid en God se ingryping in hul lewe ervaar.
“Van daardie oomblik af wou ons net die Here dien. Dinge het weer begin regkom en ons harte het gejuig.”
Kort daarna het nuwe uitdagings gevolg toe fase vier borskanker by Annelisse gediagnoseer is. In 2024 het sy ‘n enkelmastektomie ondergaan. Sy moes haar werk as tuisversorger staak, en Marco, wat destyds by Club Mykonos gewerk het, het ook sy werk verlaat om na haar om te sien.
Ná ‘n lang hersteltyd en onder finansiële druk, moes die egpaar weer werk soek. Annelisse het weer werk gekry by ‘n plaaslike aftree-oord as versorger, terwyl Marco by ‘n verpakkingsbesigheid begin werk het.
Kanker keer terug
“Ons was dankbaar om weer te kon werk en het stadig begin om ons huishouding te herbou,” vertel hy. “Maar toe begin Annelisse weer siek voel, en in 2025 het ons die nuus gekry dat die kanker terug is, dié keer in haar ander bors.”
Tydens Borskankerbewusmakingsmaand in Oktober het die egpaar besluit om van Vredenburg na Paternoster te stap, ‘n reis wat vir hulle diep geestelike betekenis gehad het.
“Terwyl ons gestap het, het ons gesien die een kant van die pad is dor en droog, en die ander kant lowergroen. Dit het ons laat besef dis hoe die lewe is, selfs in donker tye is die Here altyd met jou. Hy dra jou deur alles.”
Hulle het tydens die staptog
teruggedink aan die afgelope ses jaar en hoe hul geloof gegroei het.
“Ons weet God sal vir ons ‘n uitweg gee. Hy is altyd in beheer.”
Marco vertel dat hulle ook gedink het aan Jesus se lyding en pad na die kruis, en die opoffe-
ring wat Hy gemaak het. Dit was tydens dié staptog dat hulle besluit het om God se Woord aktief te verkondig en ander te bemoedig.
“Annelisse se kanker is terug, maar ons is nie bang nie, want ons weet die Here is met ons elke tree.”
Geloofsreis
Ten spyte van hul uitdagings, hou die gesin steeds vas aan hul geloof en vertrou hulle volkome op God.
Marco beplan om oor die Paasnaweek van 3 tot 6 April van Vredenburg na Piketberg te stap, ‘n geloofsreis om mense bewus te maak van God se liefde.
“Ek wil mense herinner dat God ons so lief gehad het dat Hy Sy Seun gestuur het om vir ons te ly en te sterf, en dat Jesus die dood oorwin het en leef. Vir dié wat voel daar is geen hoop nie: Jesus is die enigste uitweg. Hy is die hoop, die waarheid en die lewe.”
Hy sê hy sal stap soos die Gees hom lei. Met Bybels wat hy deur Mumtaz Limitless ontvang het, beplan hy om dit langs die pad uit te deel. Die tema van sy staptog is: “Vertrou die proses en behou jou geloof in Jesus.”
Marco beklemtoon dat hy nie geld insamel nie, maar bloot mense bewus wil maak van God se krag. Hy het egter wel ‘n behoefte aan goeie stapskoene en toerusting. Enigiemand wat hom wil ondersteun met skenkings van staptoerusting kan hom of Annelisse by 068 656 6854 bel.




