Die forum van gemeenskapsjoernalistiek (FCJ) het verlede week die finaliste vir die AVBOB-FCJ-2024-toekennings aangekondig en Weslander se redaksiespan het ‘n hele paar benoemings ontvang.
Dié nasionale toekennings word jaarliks gehou om gemeenskapsjoernalistiek te vereer.
Weslander se joernalis Noluvu “Lulu” Ludidi en redakteur, Alida Buckle, is uit 541 inskrywings onder die finaliste.
Ludidi is benoem in die afdeling vir nuus van menslike belang.
Buckle is in die skryf-afdelings vir redaksionele kommentaar, harde nuus en sportverslaggewing sowel as in die fotografie-afdelings vir selfoonfotografie en nuusfoto’s benoem.
“Wat ‘n jaar!” het dr. André Gouws, senior lektor in tale en kultuurwetenskappe aan Akademia en die sameroepende beoordelaar, gesê.
“Gemeenskapskoerante het in 2024 uitgeblink met hul dekking van plaaslike nuus wat saak maak, maar in baie dorpe oor die land heen het sommige groot gebeurtenisse nasionale en internasionale opskrifte gehaal. Ons gemeenskapsjoernaliste het baie moeite gedoen om die nuus na hul gemeenskappe en die wyer wêreld te bring. Ons het vanjaar meer as 500 inskrywings gehad – die meeste nog. Ons beoordelaars het ‘n paar weke lank deur al die inskrywings gewerk; dit is harde werk, maar ons is almal dol vir wat ons doen.
“Baie beoordelaars het vir my gesê hulle is opgewonde om te sien hoe lewendig gemeenskapsjoernalistiek is.”
Ludidi sê sy is dankbaar vir die benoeming en gee God al die eer. “Ek bedank ook die gemeenskap wat my toelaat om hul stories te skryf. Ek sien uit na vanjaar se toekennings en wens alle finaliste voorspoed en sterke toe.”
Vir Buckle is dit ‘n groot voorreg net om benoem te word. “Weslander en die Weskus se mense sal maar altyd my hart se punt wees. Dit is vir my besonders om steeds vir die gemeenskap van diens te kan wees en hulle wel en weë te deel.”
• Die wenners word op Vrydag 22 Augustus by ‘n gala-geleentheid by die Protea Hotel in Stellenbosch aangekondig.





