‘n Groep passievolle jeugdienslede van die Weskus-streek het onlangs energiek en geïnspireerd teruggekeer huis toe nadat hulle die “#GoBeyond25: Shape Your Future”-konferensie by die Universiteit van die Wes-Kaap bygewoon het.
Die vierdaagse nasionale jeugdiensbyeenkoms het van 10 tot 13 Julie plaasgevind en meer as 1 000 jongmense en vennote van reg oor Suid-Afrika bymekaargebring om 10 jaar van “YearBeyond” te vier.
“YearBeyond” bemagtig die jeug deur diens, leierskap en persoonlike ontwikkeling.
Vir die Weskus-“YeBoneers” was die ervaring insiggewend – van boeiende sessies tot praktiese werksessies in openbare redevoering, emosionele intelligensie en die bou van digitale vaardighede. Die jeugdienslede het waardevolle vaardighede opgedoen om in hul gemeenskapswerk en persoonlike lewe toe te pas.
Die konferensie het ook kreatiewe randsessies soos visiebordwerk, kralewerk en stil disko’s aangebied, wat ‘n ruimte vir selfuitdrukking en refleksie gebied het.
‘n Hoogtepunt vir baie was die Studie-ekspo, waar “YeBoneers” met meer as 24 tersiêre instellings kontak kon maak en moontlik nuwe deure vir toekomstige studiegeleenthede oopgemaak het.
Met hul terugkeer na hul skole en gemeenskappe bring die Weskus-“YeBoneers” ‘n hernieude gevoel van doelgerigtheid, leierskap en verbintenis saam. Die boodskap wat hulle oordra, is eenvoudig, dog kragtig: Jongmense het die potensiaal om verandering te lei wanneer hulle die platform en ondersteuning kry om te groei.
Die “#GoBeyond25”-konferensie was volgens die organiseerders nie net ‘n viering van die afgelope 10 jaar nie, maar ook ‘n wegspringplek vir wat volgende kom.






