ATLANTIS – Atlantis Foods het ter viering van Vrouemaand ‘n vennootskap met die United Sanctuary Against Abuse (USAA) aangegaan om ondersteuning aan vroue en kinders, wat deur geslagsgeweld geraak word, te versterk.
Die USAA, ‘n skuiling in Atlantis, bied ‘n veilige tuiste, berading en bemagtigingsprogramme aan vroue en kinders, wat deur mishandeling geraak word. Die organisasie bied ook ‘n gestruktureerde drie-maande-helingsprogram en werk saam met regeringsdepartemente, die polisie, gesondheidsorgverskaffers en ander gemeenskapsorganisasies.
Die doel is om oorlewendes te help om hul lewens met groter waardigheid, selfvertroue en onafhanklikheid te herbou.
As deel van die vennootskap skenk Atlantis Foods seekos aan die USAA, insluitend vis vir die skuiling se geldinsamelingsmiddagete hierdie Saterdag (29 Augustus). Die maatskappy sal ook vyf kaartjies borg sodat werknemers wat in Atlantis gebaseer is, die geleentheid namens Atlantis Foods kan bywoon.
Volgens Atlantis Foods is die vennootskap ‘n geleentheid om ‘n bydrae tot die plaaslike gemeenskap te lewer.
Robert Zive, die groothandelverkoops- en voorsieningsdirekteur by Atlantis Foods, sê die maatskappy wil op dié manier sy gewone bedrywighede ook buite sy gebied ondersteun.
Roland Brits, die fabrieksbestuurder by Atlantis Foods, sê Vrouemaand bied ‘n geleentheid om vroue en kinders, wat ondersteuning, veiligheid en hoop nodig het, te staan.
Rachel Watson, die USAA-voorsitter, sê vennootskappe met organisasies soos Atlantis Foods, help die skuiling om ‘n veilige en ondersteunende omgewing aan oorlewendes te bied.

Die USAA bied onder meer berading, terapeutiese ingrypings en vaardigheidsontwikkeling om vroue en kinders te help om na groter onafhanklikheid en herintegrasie in hul gemeenskappe te beweeg.
Atlantis Foods sal ook ‘n bewusmakingsveldtog van stapel stuur om USAA se werk onder die aandag van die breër gemeenskap te bring.
Gemeenskapslede, kliënte en verskaffers word aangemoedig om USAA te ondersteun deur die geldinsamelingsmiddagete hierde Saterdag (29 Augustus) by te woon, nie-bederfbare kos te skenk of bewusmaking van die skuiling se werk te help bevorder.



