Inwoners van Atlantis en omgewing wat van kuier hou, sal moet seker maak die drank wat hulle by kroeë en sjebiens koop, is nie vervals nie. Die ouens wat dit aankoop, moet seker maak hulle koop nie nagemaakte drank nie – al is die prys ook hoe goedkoop.
Dr. Shamal Vinesh Ramesar, die navorsingshoof by die Drankfederasie van Suid-Afrika (DF-SA), doen ‘n beroep op inwoners om saam te werk om die toename van vervalste alkohol te keer. Hy sê byna een uit elke vyf soorte drank wat verkoop word, is deesdae onwettig of nagemaak.
Hoewel onwettige alkohol die drankbedryf belemmer, hou dit ‘n gevaar vir gebruikers se gesondheid in. Navorsing van Euromonitor International wys die onwettige alkohol-mark het sedert 2017 met 55% gegroei.
Kenmerke van vals drank
Vervalste alkohol is onbelas, ongereguleer, ongetoets en onveilig, want dit word in onhigiëniese plekke vervaardig en gevaarlike hoeveelhede etanol of giftige bymiddels soos metanol word bygevoeg. Dié chemikalieë het ‘n skerp reuk en kan blindheid, senuwee-
skade, hartversaking en meta-
boliese asidose (vinniger hartklop, verwarring, moegheid, swakheid, vinnige asemhaling, naarheid, braking, erge dehidrasie en skok) veroorsaak en tot orgaanversaking en selfs die dood lei.
Altesaam 83% mense in ‘n onlangse peiling was bekommerd oor die gesondheidsgevaar van onwettige alkohol; 49% ken iemand wat daardeur benadeel is en 29% ken iemand wat daaraan gesterf het.
Wees op die uitkyk as:
• Pryse aansienlike laer is as drank by ‘n wettige drankwinkel.
• Die bottelseël gebreek is of nie ‘n kraakgeluid maak wanneer dit oopgemaak word nie.
• ’n Ry drankbottels nie dieselfde hoeveelheid drank in het nie.
• Vervalste alkohol smaak en lyk nie soos wettige alkohol-handelsmerke nie.
• Fyn deeltjies dryf soms in die vloeistof.
• Die etikette lyk effens anders en is op ‘n ander plek geplak.
• Bottels met vervalste drank word van substandaard glas gemaak, wat minder weeg.
• Geen strepieskode of vervaardigingsdatum verskyn op die bottel nie.
Kenmerke van vervalsers
Verskaffers van vervalste drank het nie geldige drankverspreidingslisensies of amptelike maatskappyregistrasies of BTW-nommers nie.
Hulle het gewoonlik nie ‘n adres nie en wil ook nie hê iemand moet hul “sakeperseel” besoek nie. Hulle werk streng kontant en gee nie kwitansies of fakture nie.
Vervalsers lewer in ongemerkte afleweringsvoertuie af.
Ramesar waarsku dat enige onderneming wat bewustelik aanhou om vervalste drank te verkoop, se bates afgeneem kan word.





