Bly hoop en glo, ‘n rubriek deur Andre Smith.

Ná meer as drie dekades van demokrasie in ons land moet ons eerlik wees met mekaar dat ons nog nie die vryheid geniet wat ons verdien nie. Ons kan en mag nie proklameer dat ons ‘n vrye demokrasie is as . . .

• Ons gemeenskappe in vrees leef vir die volgende bendeverwante skietvoorval wat hom iewers in ons land kan of gaan afspeel nie. En as ons deesdae die hulp van die weermag moet bekom om reg en orde te help toepas, dan moet daar iewers groot fout wees. Ons weet van daardie foute. Ons weet wat die oorsprong daarvan is.

• Die skeidslyn tussen dit wat reg en verkeerd is het al so erg verwater en vervaag dat dit bitterlik moeilik geword het om reg en orde na behore toe te pas. En as almal en bykans alles geraak word deur die bose kringloop van magsvergrype en die najaag van geld ten koste van ‘n gesonde gemeenskap, dan laat dit my wonder of ons werklik vry is; dan laat dit my wonder wat van ons kinders gaan word.

• Armoede in ons gemeenskappe al meer van ‘n algemene verskynsel begin word en die finansiële druk net al erger raak vir jou deursneegesin, dan maak dit ‘n mens diep bekommerd en as ons mense nog in agterplaas-hokkies moet woon en nie eens die voorreg het om die gerief van ‘n badkamer te geniet nie. As die sewe of tien mense in daardie hokkie elke aand moet skarrel vir ‘n lêplekkie iewers in daardie hokkie, kan ek dit nie vryheid noem nie.

• En as ‘n ma nog ‘n aand voor etenstyd God moet smeek om tog ‘n uitweg te bied sodat daar net vir die tien van hulle iets te ete sal wees – is ons dan werklik vry as ‘n nasie?

• As ons mense elke maand bakhand moet staan vir ‘n staats­toelaag wat nie eens ‘n week hou nie, want die skuld wat gemaak is gedurende die maand moet eers afbetaal word – is ons dan werklik vry of eerder deel van ‘n bose kringloop wat hom oor en oor herhaal?

• En as ons politieke partye die situasie uitbuit om ons mense in daardie bakhand- posisie te hou … is ons dan werklik vry? Die bakhandstaan-kultuur, wat oor dekades in ons gemeenskappe gevestig is, is na my mening nie ‘n werkbare plan om ons mense uit armoede te lig nie. Dit skep eerder slawe van ‘n stelsel waar hulle in magsposisies hulself verryk en die armstes van die armes laat krepeer in ‘n staat van kroniese armoede.

• As die gaping tussen die “haves and have nots” al groter raak in ons land, dan is ons mos nie werklik vry nie.

• As al ons mooi politieke beleidstukke ná meer as drie dekades nog nie daarin kon slaag om daardie gaping te vernou nie, dan laat dit ‘n mens wonder of daar werklik die politieke wilskrag is om die lot van miljoene Suid Afrikaners wat in armoede vasgevang is, te verlig.

Een van die dae is dit weer stemtyd.

‘n Mens begin reeds wonder watter slim slagspreuke hierdie keer uitgedink gaan word en watter wortel voor die neus van ons mense gehou gaan word.

Kospakkies en T-hemde gaan seker weer uitgedeel word – so asof ‘n kospakkie of ‘n T-hemp die armoede wat bestaan, in ‘n oogwink kan uitwis.

Is ons vry as soveel van ons sodanige politieke leiers en ander vooraanstaande figure met magsposisies van bedrog en ander magsvergrype verdink word?

En as die bewyse teen sodaniges wel bestaan, maar niks daaraan gedoen word nie – is ons dan werklik vry?

Party van ons is seker dan maar bo die reg verhewe …

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 28 April 2026
    WeskusNuus E-Edition – 28 April 2026

Gift this article