Spaar moet ‘n lewenswyse word. Foto: Towfiqu Barbhuiya | Unsplash

Leer nou om te begin geld spaar


Atlantis-inwoners word gedurende Spaargeldmaand in Julie aangemoedig om beter na hul geld om te sien deur eenvoudige spaargewoontes aan te leer en slim finansiële besluite te neem.

Met die koste van kos, vervoer en ander huishoudelike uitgawes wat aanhou styg, kan selfs ‘n klein bedrag wat gereeld gespaar word, help wanneer onverwagte uitgawes opduik.

Dr. Ivan Meyer, die Wes-Kaapse minister van landbou, ekonomiese ontwikke­ling en toerisme, sê kennis oor geldsake help mense om beter besluite te neem.

“Finansiële geletterdheid help verbruikers om ingeligte besluite te neem. Wanneer mense verstaan hoe om te begroot, skuld verantwoordelik te hanteer en vir die toekoms te spaar, kan hulle hul finansies beter bestuur en hulself teen moeilike tye beskerm,” het hy beklemtoon.

Baie Suid-Afrikaners sukkel om geld opsy te sit en het nie genoeg spaargeld vir noodgevalle soos mediese kostes, verlies aan inkomste of onverwagte reke­ninge nie.

Inwoners word aangemoedig om:

• ’n eenvoudige begroting vir elke maand op te stel;

• ’n klein bedrag geld gereeld te spaar – al is dit net ‘n paar rand;

• ’n noodfonds vir moeilike tye op te stel en eenkant te hou.

• onnodige skuld en impulsiewe aankope te vermy; en

• meer oor geldbestuur te leer.

Spaar gaan nie net oor hoeveel geld iemand verdien nie, maar ook oor hoe geld bestuur word. Deur klein veranderinge aan te bring, kan gesinne meer finansiële sekerheid en minder stres oor geld ervaar.

Die Kantoor van die Verbruikersbeskermer help inwoners met inligting oor hul regte, hoe om finansiële swendelary te vermy en hoe om beter besluite oor geld te neem.

Hierdie Spaargeldmaand word inwoners aangemoedig om een klein stap te neem om hul finansiële toekoms te verbeter, soos om ‘n begroting op te stel en streng daarvolgens te werk, onnodige uitgawes te sny of ‘n klein bedrag elke maand te begin spaar.

“Spaar is nie ‘n bedrag nie; dit is ‘n gewoonte.”

• Die Wes-Kaapse regering sê hy bly verbind tot die bemagtiging van inwo­ners deur finansiële opvoeding en verbruikersbeskerming.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 25 August 2026
    WeskusNuus E-Edition – 25 August 2026

Gift this article