ATLANTIS – ’n Dubbele skietaanval op ’n man in sy motor op Woensdag 28 Oktober het die borgtogaansoek van ’n ma wat van die verkragting van haar twee kinders verdink word, ontwrig.
Die slagoffer het afsonderlike aanvalle oorleef, nadat gewapende aanvallers hom op twee verskillende plekke in die dorp geteiken het.
Die eerste voorval het reg voor ’n primêre skool plaasgevind, waar verdagtes die slagoffer, wat ‘n n wit motor bestuur het, vermoedelik ingewag het terwyl hy kinders by die skool kom haal het.
Volgens ‘n betroubare bron is ses skote by die skool op die bestuurder afgevuur waarvan verskeie hom getref het. Ondanks sy beserings kon hy daarin slaag om van die toneel af weg te jaag.

Sy beproewing was egter nog nie verby nie, want hy is kort daarna weer deur gewapende aanvallers geteiken. Die tweede skietvoorval het, volgens die bron, direk agter die hofgebou, slegs ’n hanetree van die polisiestasie af, plaasgevind.
Dit is in hierdie stadium onbekend hoeveel skote tydens die tweede aanval afgevuur is en of die man deur nóg koeëls getref is. Die gewonde man het glo in sy haas om van die toneel te vlug, byna met sy voertuig binne-in ’n winkel beland.
Kaptein Lisa Munro, polisiewoordvoerder, het die twee skietvoorvalle bevestig en gesê dat geen verdagtes nog in verband met die voorval in hegtenis geneem is nie.
Die slagoffer is in ’n ernstige toestand na die Wesfleur-hospitaal geneem.
Die aanvalle het kommer oor veiligheid in die gemeenskap laat ontstaan. Peter Stoffberg, gemeenskapsaktivis van die gemeenskapsgroep #piemphulle, het aangedui hy het inligting uit die gemeenskap wat daarop dui dat grootskaalse bendekonflik moontlik op die skietvoorvalle kan volg.
Stoffberg meen die skietaanvalle kan moontlik verband hou met ’n wraakaanval ná ’n ander onlangse skietvoorval.
Volgens Stoffberg leef inwoners al jare lank met die gevolge van dwelmhandel, bendegeweld, onwettige vuurwapens en ander kriminele aktiwiteite. Hy meen ’n meer doelgerigte, intelligensiegedrewe benadering is nodig om die probleem aan te spreek.
Hy doen ’n beroep daarop dat vermeende bendebase en ander verdagtes van ernstige misdade deeglik ondersoek word en waar voldoende bewyse bestaan, vervolg word. Hy beklemtoon ook dat inwoners aangemoedig moet word om inligting oor misdaad te verskaf en dat bruikbare wenke behoorlik opgevolg moet word.
Stoffberg wil verder hê dat buurtwagte beter toegerus en opgelei word, terwyl samewerking tussen inwoners en wetstoepassingsagentskappe versterk moet word.
“Gemeenskapsveiligheid kan nie net die polisie se verantwoordelikheid wees nie. Inwoners, buurtwagte, gemeenskapsstrukture, die Stad en wetstoepassing het almal ’n rol om te speel,” sê hy.
Hy stel ook voor dat woonstelkomitees ingestel of versterk word om saam met wetstoepassers probleemwoonstelle te identifiseer en moontlike kriminele aktiwiteite aan te spreek.
“Atlantis het ’n gekoördineerde misdaadvoorkomingstrategie nodig wat op intelligensie, aanspreeklikheid en aktiewe gemeenskapsdeelname gegrond is,” sê Stoffberg.
Intussen duur die ondersoek na die twee skietvoorvalle voort, terwyl die polisie nog na die verdagtes soek.
LEES OOK: Vermeende reeksmoordenaar moet 30 dae psigiatriese evaluering ondergaan






You must be logged in to post a comment.