Suid-Afrika vier elke jaar Nasionale Boomweek in die eerste week van September – dis ‘n tyd om bewustheid te skep oor die belangrikheid van bome, biodiversiteit en groen ruimtes.
Bome vervul ‘n noodsaaklike rol in die bekamping van klimaatsverandering, die verbetering van luggehalte en die bou van gesonder en standvastiger gemeenskappe.
Volhoubaarheid is hier by die Atlantis- spesiale ekonomiese sone (Asez) die kern van ons visie. Ons glo dat ekonomiese groei en omgewingsbewaring hand aan hand moet gaan en ons is trots om groen inisiatiewe te dryf, wat ‘n tasbare verskil in ons gemeenskap maak.
Ons Boomweek-vieringe het vanjaar ‘n besondere betekenis gehad.
Aangesien Atlantis se 50ste bestaansjaar in 2026 is, is ‘n boomplantgeleentheid gehou om die dorp se reis en sy blink toekoms te vereer. Ons het 50 inheemse bome saam met vennote en gemeenskapslede geplant – ‘n simbool van 50 jaar se groei en die belofte van nog 50 jaar se vergroening en standvastigheid.
Verder as hierdie simboliese gebaar bly die Asez daartoe verbind om volhoubaarheid in ons werk te vestig – van die bevordering van hernubare energie en sirkulêre ekonomiese praktyke tot die ondersteuning van omgewingsvriendelike sakeondernemings, werk ons daaraan om Atlantis as ‘n leier in groen nywerheidsontwikkeling te vestig.
Namate ons uitsien na Atlantis se goue jubileum, word ons herinner dat die beste tyd om ‘n boom te plant, 20 jaar gelede was. Die tweede beste tyd is nou.
Ons Boomweek-viering is net ’n stap in ons voortgesette reis om volhoubaarheid diep in die weefsel van ons gemeenskap te plant.



