Christiaan Schoeman vertolk die rol van Andrew in “Kyk my in my oë”.

Noluvu Ludidi

Met sy nuwe fliek “Kyk my in my oë”, wat binnekort sy verskyning op die grootskerm maak, heers groot opgewondheid vir die Melkbosstrand-inwoner Christiaan Schoeman.

Volgens Schoeman fokus die fliek op geestesgesondheid, outisme en familieverbindings. Dit is ‘n fliek wat veral tydens Outisme-maand baie gewig dra.

Vir Schoeman en sy mede-skrywer, Rickus Terblanche, was dit belangrik om die breër aspek van die outisme-spektrum uit te beeld. Die fliek fokus op Andrew, die hoofkarakter, ‘n jong outistiese man, wat Kaapstad toe gaan om sy vervreemde pa te konfronteer, maar moet by sy neef Riaan intrek – ‘n man wie se lewe stilletjies ontrafel nadat sy verhouding skeefgeloop het.

In die ongemaklike ruimte tussen hulle moet hulle begin om onuitgesproke trauma te konfronteer en ‘n manier vind om mekaar te verstaan.

“Ons het ‘n hele reis met die draaiboek gehad. Gesprekke het rondom September 2024 begin en dit het regtig gevoel soos ‘n fliek wat smeek om gemaak te word. Een van die grootste struikelblokke om ‘n voltooide draaiboek te vat en dit in ‘n rolprent te verander, is hoe gaan jy alles wat jy neergeskryf het, geskiet kry vir net soveel geld. Wat ek met “Kyk my in my oë” gedoen het, was om dit te skryf met die bedoeling om dit so goedkoop as moontlik te doen.”

Schoeman het die liggings tot sy beskik­king geneem en alles saamgesmelt en is trots op die eindproduk.

Die gehalte van die gesoute akteurs is ook iets waarop Schoeman trots is.

Vir hom beteken die rolprent ongelooflik baie. “Dit is meer as net die storie wat dit vertel en die eindproduk, want hierdie fliek verteenwoordig ‘n risiko wat ek geneem het en self finansier het, maar dis ook ‘n belegging wat ek in myself gedoen het.

“Ek glo in my vermoë as akteur en reggiseur en ek wil hierdie fliek gebruik as ‘n manier om te bewys waartoe ek as filmmaker in staat is. Bo dit als is dit ook ‘n manier om een van die vele stories te vertel van ‘n groep mense wat nie noodwendig altyd die vermoë het om namens hulself te praat nie.”

Met die harde werk en tyd wat ingesit is, meen Schoeman “Kyk my in my oë” is die soort rolprent wat ­gesprekke sal uitlok en mense sal aanmoedig om­ dieper oor mense op die spektrum en hul daaglikse ervarings en uitdagings te delf.

Die rolprent begin op Vrydag 15 Mei by die Labia-teater in Kaapstad draai.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 28 April 2026
    WeskusNuus E-Edition – 28 April 2026

Gift this article