Lede van die misdaadvoorkomingspan van die Atlantis-polisie het Sondagmiddag 5 April omstreeks 22:00 patrollies in Bunting Crescent, Atlantis, uitgevoer toe hulle ‘n verdagte met ‘n vuurwapen opgemerk het.
Volgens die polisie het die lede misdaadvoorkomingspatrollie in Bunting-singel gedoen toe hulle ‘n groep mense op die hoek opmerk. Toe die lede naderkom, het een op die vlug probeer slaan.
Een polisielid het die vlugtende agternagesit en hom weens ‘n 9-mm-pistool in sy besit in hegtenis geneem.
Die 15-jarige het op Dinsdag 7 April in die Atlantis-landdroshof verskyn op aanklag van die onwettige besit van ‘n vuurwapen.
Kol. Mario Thyse van die Atlantis-polisie sê minderjariges word dikwels vir dwelmhandel, diefstal, die dra van onwettige vuurwapens en geweldsmisdade gebruik, wat langdurige traumatiese gevolge kan hê.
“Kinders word dikwels geteiken omdat hulle minder risiko dra om opgespoor te word en makliker manipuleerbaar is. Risikofaktore sluit in swak ouerskap, lae akademiese prestasie, betrokkenheid by bendes en blootstelling aan geweld.”
Hy sê behoorlike toesig deur ouers en vroeë ingryping binne die skoolstelsel kan die kans op betrokkenheid by misdaad verminder. Groter betrokkenheid by skoolaktiwiteite is ook ‘n teenvoeter.




