Murphy Roberts
Mamre se groen truie het Saterdag (21 Maart) die besoekers van Good Hopes met skitterrugby met 53-15 in die twee spanne se Boland-Grootuitdaagbeker-Swartland-streekwedstryd in Mamre geklop.
Die groen truie, wat soos ‘n diesel-enjin gesukkel het om aan die gang te kom, het daarna die krane behoorlik oopgedraai. Die span van Kenny Stadler, wat verlede week weens swak dissipline teen Darling se melkboere vasgeval het, moes eenvoudig die wedstryd wen om in die wedloop te bly. Die oorwinning het ook die groen truie weer onder die voorlopers geplaas nadat Darling in ‘n wegwedstryd teen Abbotsdale gespeel en hulle geklop het. Mamre, wat Saterdag na Malmesbury reis om Never Despair te pak, sal egter moet voortbou op hul momentum en Stadler sal ook nog aandag aan die span se dissipline moet skenk.
Die nederlaag het ook ‘n einde aan Lillies se onoorwonne status gebring.
Young Hearts het ook hul eerste nederlaag teen Paternoster gely. Ruben Abels en sy troepe het in Paternoster 18-22 vasgeval. Saldanha Tigers, wat dié seisoen hul buiging in die Grootuitdaag maak, sal ook die Grafkelder die eerste keer besoek. Met Abels en sy troepe, wat tans die sesde plek op die punteleer beklee, behoort hulle ná Saterdag ‘n plek of twee te klim.
Vredenburg se Burg Boys is steeds die pasaangeërs nadat hulle Piketberg 104-3 afgeransel het. Met nou net drie spanne wat steeds onoorwonne is, het Velddrif ook teen Langebaan vasgeval. Vredenburg, Saldanha en St. Helenabaai is steeds onoorwonne.
Atlantis, wat steeds voorseisoenwedstryde speel, het Saterdag 13-22 in ‘n wegwedstryd teen Hands and Hearts vasgeval. Hamlets het op sy tuisveld ook ‘n goeie oorwinning in die vriendskaplike wedstryd teen Belhar behaal. Hamlets het die wedstryd maklik 33-12 gewen.
Atlantis en Hamlets pak mekaar Vrydagaand in ‘n vriendskaplike wedstryd in Mamre.
Weskus
Vredenburg 104-3 Piketberg, Saldanha 81-5 Goedverwacht, Velddrif 28-34 Langebaan, St. Helena 35-12 Hopefield, Saldanha Tigers 66-12 Steenberg’s Cove en Paternoster 22-18 Young Hearts
Swartland
Abbotsdale 22-28 Darling, Wesbank 28-22 Moorreesburg, Mamre 53-15 Good Hopes, Saron 27-24 Never Despairs, Porterville 22-21 Villagers Wittewater, Koringberg 39-17 Riebeeck United
Dié naweek speel Young Hearts teen Saldanha Tigers, Paternoster t. Velddrif, Langebaan t. St. Helenabaai, Hopefield t. Vredenburg, Piketberg t. Saldanha en Steenberg Cove t. Goedverwacht.





