Murphy Roberts
Hoekom moet onskuldige kinders die prys betaal vir dade waarby hulle nie betrokke is nie – dié wat verantwoordelik is, moet vir hul dade boet.
Verlede Woensdag (25 Februarie) was nie soos enige ander dag in Atlantis nie. Dit het in hartseer en trauma vir baie geëindig toe skieters op ‘n taxi-eienaar voor die Atlantis Sekondêre Skool losgebrand het. Een leerder is doodgeskiet en twee is in die proses gewond.
Die voorval het die lewe van baie jong mense onherroeplik verander en die bloedige toneel is vir altyd in hul jong lewens vasgemessel, het die skool in ‘n brief gesê. Die voorval, wat wyd veroordeel word, kan nie geïgnoreer word omdat dit voor die hekke van ‘n plek van opvoeding, wat veilig moet wees, plaasgevind het nie, lui die brief.
“Niemand kan die voorval in ‘n rassehaatvoorval verander nie, omdat ons met almal raas en almal liefhet – ongeag ras en geslag – omdat hulle kinders is; ons kinders,” sê die skool.
Die koeëls was na bewering bedoel vir Eugene Titus (42), algemeen bekend as “Spoed”. Hy het voor die skool op sy passasiers gesit en wag toe onbekende mans, wat vermoedelik reeds ‘n geruime tyd voor die skool rondgedrentel het, op hom toegeslaan het.
Volgens kapt. Lisa Munro, ‘n polisie-
woordvoerder, is Titus verskeie kere ge-
tref, terwyl ‘n 14-jarige graad-8-leerder,
wat van die koeëls probeer wegkom het, deur ‘n paar koeëls in die bors getref is en op die skoolterrein voor ander leer-
ders inmekaargesak en gesterf het.
Volgens ‘n betroubare bron het Titus onlangs ‘n soortgelyke aanval oorleef, waarna hy glo al verskeie kere weer met die dood gedreig is.
Twee mense, onder wie ‘n taxieienaar
en ‘n taxibestuurder, is op Dinsdag 24 Februarie doodgeskiet.
Volgens Munro het die voorval vroegaand by die taxi-
staanplek in Witsand plaasgevind. Een man is op die toneel doodgeskiet, terwyl die ander slagoffer kort daarna in die Wesfleur-hospitaal gesterf het. Dit bring die aantal slagoffers in voortslepende taxigeweld in Atlantis op vier te staan.
Die tweede voorval voor die skool, wat volgens bronne ‘n wraakaanval was, het die Atlantis-gemeenskap tot in sy fondamente geskok.
Die polisie het bevestig die voorval is níé bendeverwant nie en word deur die taxigeweldeenheid ondersoek.
Volgens ‘n ingeligte bron was die twee oorledenes in Witsand lede van Cape Amalgamated Taxi Association (Cata) terwyl Spoed ‘n lid van die Congress of Democratic Taxi Associations (Codeta) was.
Volgens Munro is een verdagte vir dwarsboming van die gereg aangekeer.
Intussen het Geordin Hill-Lewis, die burgemeester van Kaapstad, aangekondig dat die Stad Kaapstad ‘n beloning van tot R100 000 aanbied vir inligting wat tot die inhegtenisneming en skuldigbevinding van die skuldiges sal lei.
“Ons staan saam met die vredeliewende inwoners van Atlantis wat nie hoef te ly as gevolg van interne gevegte tussen taxibase nie,” sê Hill-Lewis. “Ons treur diep saam met die families van die slagoffers, insluitend die jong leerder wat tragies doodgeskiet is.”




