Murphy Roberts
Ons kan net dankie sê vir die verskil wat sy in baie se lewens gemaak het.
Dít is die woorde van ‘n groep voormalige studente wat hul tuissorgopleiding by suster Olivia Pharo gedoen het.
Die groep het gese dit was alles behalwe ‘n “k@k kursus”, soos wat ‘n GOOD-party-raadslid vroeër vanjaar daarna verwys het.
“Ons is baie trots op wat ons danksy Pharo bereik het, en is nie meer werkloos nie,” het die groep laat hoor.
Volgens een van die tuisversorgers, wat nie haar naam genoem wil hê nie, het sy ook by die kliniek uitgehelp om meer ondervinding op te doen en is die kliniek “vir ewig dankbaar”.
Nog een sê sy het nie lank nadat haar opleiding voltooi is nie, deur ‘n Kaapse hospitaal as ‘n tuisversorger werk gekry.
Roscoe Palm, ‘n raadslid van die GOOD-party in die Stad Kaapstad, het inwoners van Atlantis onlangs erg onthuts gehad met ‘n verklaring dat suster Pharo se kliniek ‘n “Fong Kong”-kliniek is. Palm het ook beweer dat suster Pharo “buit die reeds sukkelende gemeenskap uit” is”.
Palm het tydens die verklaring gevra dat dringend teen die onwettige kliniek en die uitbuiting van inwoners opgetree moet word. Suzette Little het aan WeskusNuus gesê drie klagtes word teen die kliniek ondersoek, maar die party het teen druktyd nie op die versoek vir saak- of verwysingsnommers van enige klagtes reageer nie.





