David Rossouw
In ‘n seisoen waar elke afskop, elke tackle en elke traan tel, het Atlantis Leeds United nie net ‘n sokkerliga gewen nie, maar sy droom laat voortleef deur die Premierliga-afdeling van die Atlantis- plaaslike sokkervereniging met trots te beklink.
Hulle staan nou op die drumpel van iets groters – deelname aan die Safa-Kaapstad-uitspeelliga vir ‘n plek in die 2026-’27-Hollywoodbets-streekkompetisie.
Grant Gertze sê geloof is die dryfkrag agter sy leierskap as hulpafrigter. “Alle eer aan ons Hemelse Vader – sonder Hom is niks moontlik nie,” sê hy. Hy het ook die ondersteuners, afrigtingspan en spelers bedank: “Julle het ons deur reën en sonskyn gedra. Hierdie oorwinning is Atlantis s’n.”
Wat hierdie span uniek maak, is nie net hul talent nie, maar hul storie. Baie van die spelers is Gertze se voormalige juniors – kinders wat hy as o.8’s en o.10’s afgerig het en wat nou as volwassenes saam met hom die veld betree. “Hulle het steeds dieselfde respek as toe hulle klein was,” sê hy met trots, “en selfs die nuwe spelers het daardie gees van toewyding ingedra.”
Die pad was lank. Twee jaar gelede het Leeds die liga gewen, maar in die uitspeelrondes vasgeval. Hierdie keer het die span geweet: Vir sommige is dit dalk die laaste kans om ‘n liga te wen.
Vir die jonger spelers is dit die begin van iets groots. “Ons fokus sterk op jeugontwikkeling,” sê Gertze. “Hierdie oorwinning dra gewig, want dit is op jare se opoffering gebou.” Die uitspeelrondes wat
voorlê, is geen maklike taak nie. Leeds sal teen ander kampioensklubs speel en slegs ‘n handjievol van hul spelers het al daardie druk beleef. Maar Gertze is optimisties. “Ek weet uit ervaring – om ‘n uitspeelronde te wen, is ‘n ongelooflike gevoel.”
Die droom om in die Hollywoodbets liga te speel, is nie net vir Leeds nie, maar vir Atlantis, sê hy. “Dis vir elke jong speler wat hoop op ‘n kans. As ons dit regkry, sal dit deure open vir ons jeug en hopelik sal ons Jomo’s Power AFC aanvuur om ook hul plek in die ABC Motsepe-liga terug te neem om Atlantis in sokker te bevorder.”
Die pad vorentoe verg dissipline, fokus en geloof. “Ons weet Atlantis staan agter ons – selfs al is hulle nie op die veld nie, sal hul teenwoordigheid gevoel word. Aan my spelers en my regterhand, Donovan (Tanne) Dolphin – bly positief, hou die dissipline en ek glo in julle van dag een af”, het Gertze aan WeskusNuus gesê.





