Murphy Roberts
“Genees Atlantis”, wat vroeg in die jaar in die lewe geroep is om die dorp veiliger te maak, is besig om momentum te kry.
Kol. Mario Thyse, die stasiebevelvoerder van Atlantis, het tydens ‘n vergadering met verskeie rolspelers gesê die volgende stap is om skilderye te verf van inwoners wat in veral bendegeteisterde woonstelle bo hul omstandighede uitstyg.
Thyse het die Dura-woonstelle genoem, waar dié huidige subraad-1-voorsitter grootgeword het. Volgens hom is dit ‘n voorbeeld vir mense dat misdaad nie die oplossing is nie. Hy het ook genoem dat ‘n dokter en ingenieurs ook uit Dura kom.
Die raadslid Allister Lightburn, wat ook daar gewoon het, sê dit is gewis ‘n stap in die regte rigting en hy sal met die wyksraadslid Moosa Raise ook ander gebiede uitken en aanwys. Volgens Lightburn gaan hy as die subraad-1-voorsitter tesame met Raise die nodige toestemming en goedkeuring by die Stad se departement van menslike nedersettings verkry en met die burgemeesterskomiteelid, die raadslid Carl Pophaim, sowel as met mense by die plaaslike behuisingskantoor in Atlantis praat.
“Ons ondersteun hierdie inisiatief, want dit kweek positiewe rolmodelle binne die gemeenskap in Dura en daar is suksesvolle mense wat ondanks hul omstandighede uitgestyg het. Dit kan net ‘n goeie teenvoeter wees vir bendegeweld, want dit vereis ‘n holistiese benadering om ons jongmense aktief in jeugprogramme te plaas sodat hulle die nodige regte keuses in die lewe kan maak.”
Thyse het ook een van die stigters van Genees Atlantis, Peter Stoffberg, geloof vir sy veldtog #Piemphulle. Volgens Thyse kry hulle nou gereeld inligting uit die gemeenskap – nie net oor wapens nie, maar ook wie was by watter skietery betrokke. Hy het ook bevestig dat verskeie moordenaars danksy dié inligting nou agter tralies sit.
Die groep het ook meer rolspelers vir ‘n opvolgvergadering genader om te help om ‘n bydrae te lewer om Atlantis ‘n veiliger plek te help maak.





