Murphy Roberts
Met die begin van die tweede ronde in die Boland-Grootuitdaagreeks en die Vroueliga wat die afgelope naweek afgeskop het, het Mamre se groentruie telkens oorwinnings aangeteken.
Die vrouespan het hul eerste ligawedstryd met ‘n bonuspuntoorwinning van 28-0 teen Hexvallei afgeskop. Mamre se manne het Good Hopes daarna in nat toestande met 41-9 afgeransel. Dié bonuspuntoorwinning kon nie op ‘n beter tyd vir die troepe van Kenny Stadler gekom het nie en die span beklee tans die vierde plek op die punteleer in die Swartland-streek.
Mamre, wat slegs agt punte agter die voorloper, Wesbank, en drie agter Saron (tweede) is, sal Saterdag momentum moet behou wanneer hulle die voorloper, Wesbank, in ‘n weg-wedstryd pak. Young Hearts, wat die naweek ‘n blaaskans geniet het, is steeds in die tweede plek op die punteleer en het ‘n wedstryd minder as die voorloper, St. Helenabaai, gespeel, met Saldanha in die derde plek. Young Hearts reis Saterdag na Hopefield.
Atlantis het die naweek die Busy Bees op Proteapark 21-8 geklop om sy posisie op die punteleer te verbeter.
Atlantis het intussen twee plekke opgeskuif en is tans in die elfde plek. Sy kanse om weer vir die laaste ses te kwalifiseer, is steeds lewendig en die span sal sy alles in hul oorblywende wedstryde moet gee.


