Murphy Roberts
Mamre het Saterdag (24 Mei) sy eerste ronde in die Boland-grootuitdaagreeks op ‘n wennoot afgesluit. Die troepe van Kenny Stadler het hierdie seisoen eers hul buiging in die Swartland-streek gemaak en die oorwinning het die groentruie in die vyfde plek geplaas. Mamre het die besoekers uit Moorreesburg met 52-44 geklop nadat hulle rustyd 21-25 agter Moorreesburg was.
Karakter, veggees en die wil om te wen het die groentruie van Mamre egter laat seëvier, maar die span se dissipline sal verskerp moet word. Met ses geelkaarte in die wedstryd (drie elk) kon die wedstryd dalk ‘n lelike nadraai vir die tuisspan gehad het. Mamre het reeds vroeg sy merk in die vasteskrums gemaak en die span se eerste punte het van ‘n strafdrie gekom nadat die besoekers naby die doellyn meters agtertoe geskrum is. Moorreesburg het daarna met ‘n strafskop en verdoelde drie die neus voor gekry en die tafel was gedek vir ‘n opwindende wedstryd.
Krediet moet egter aan die besoekers gegee word vir die manier hoe hulle die tuisspan in die eerste helfte in toom gehou het. Met die wipplankstryd en die voortou wat gereeld verander het, het die besoekers kort-kort die telbord aan die rol gehou, die tuisspan se foute uitgebuit en rustyd welverdiend voorgeloop.
Mamre het die tweede helfte soos die eerste begin en vroeg weer ‘n verdoelde drie behaal om weer voor te loop.
Moorreesburg het egter sy wurggreep op die tuisspan behou en met minder as tien minute in die wedstryd oor nog voorgeloop. Mamre, wat toe al 31 punte teenoor die besoekers se 19 in die tweede helfte opgestapel het, moes egter tot in die laaste minute wag om die wedstryd te beklink.
• Young Hearts het Saterdag sy tweede nederlaag agtereenvolgens gely toe die manne van die Grafkelder in Velddrif vasgeval het. Die 22-46-nederlaag het die span tot in die tweede plek op die punteleer laat terugsak en met St. Helenabaai, wat in Piketberg vasgeval het, is dit net ‘n beter punteverskil wat die Agterbaaiers in die eerste plek plaas. Atlantis het op sy beurt teen Gardens in ‘n weg-wedstryd met 6-27 vasgeval en Hamlets het ook hul rieme in Franschhoek styfgeloop (telling 26-36).



