Murphy Roberts
Inwoners van Uitbreiding 12 is woedend oor die omstandighede van paaie en baie kan nie hul motors gebruik nie.
Met winter op hande is inwoners bekommerd oor wat op hulle wag. Baie van hulle het tydens ‘n vergadering met die raadslede Allister Lightburn, Moosa Raise en Anastatia Davids hul probleme bespreek en eis dringende oplossings.
Volgens Davids is sy deur inwoners genader om hulle te help.
“Ek het alles moontlik gedoen en verskeie briewe aan die owerhede gestuur,” het Davids beaam. Inwoners was verlede week vasgekeer en baie kon nie hul motors gebruik nadat reën uitgesak het nie.
Baie van die paaie het verspoel en ongeveer vyf motors het in die modder vasgesit terwyl twee ernstige skade opgedoen het.
Volgens Nazli Saleh, ‘n inwoner, het haar dogter se motor in die modder vasgeval en sy kon nie beweeg nie. “ons moes haar gaan help,” het sy gekla.
“Ons verstaan hulle is besig met bouwerk, maar wil weet hoekom moet hulle so baie paaie gelyktydig uitskraap,” wou sy weet. Saleh het ook uitgevaar omdat hulle nou baie verder moet loop om die MyCity-bus te haal omdat baie van die busse nie meer daar kan ry nie.
Volgens Raise, die wyksraadslid vir die gebied, word die kwessie oor die paaie gereeld bespreek en die kontrakteur het ‘n klagteboek waar inwoners hul ontevredenheid kan aanmeld. Inwoners het ook gal gebraak omdat hul kinders nie betyds vir skool opgelaai kan word nie en die meeste van die tyd laat is omdat dit byna onmoontlik is om daar te ry.
Inwoners is dit ook eens dat niemand verantwoordelikheid wil aanvaar vir die toestande en verliese wat inwoners ly nie.
Volgens Lightburn is hy bewus van die omstandighede en kry ook gereeld klagtes. Hy sê hy en Davids het reeds met die burgemeesterskomiteelid vir menslike nedersetting kontak gemaak en dié sal die perseel spoedig besoek.
Lightburn meen die munisipaliteit moet dringend kyk na oplossings – veral met die reënseisoen op hande.
Die raadslede sê hulle is veral bekommerd omdat dit slegs een dag se reën was wat die skade aangerig het en kan nie help om te wonder wat gaan gebeur wanneer dit vir dae aaneen gaan reën nie.





