Murphy Roberts
“Breek die stilte; moenie langer stilsit terwyl verkragters en ander seksuele oortreders skotvry buite rondloop nie!”
Dít is die woorde van Janine Passenz van die Survivers Haven foundation wat nou ook ‘n radioprogram doen.
Passenz verduidelik die program moedig slagoffers aan om die stilte te breek en te praat.
Die jaar het baie goed vir die organi- sasie begin, verduidelik sy. “Survivors Haven het vanjaar met die Universiteit
van Nottingham in Engeland begin saamwerk,” vertel Passenz trots. “Ons het ook reeds ‘n projek met die Clooney Foundation in Amerika gedoen,” sê sy.
Volgens Passenz het navorsing deur die Nottingham-universiteit getoon ‘n groot behoefte bestaan vir inligting oor slagoffers van seksuele misdrywe. Die navorsing het ook getoon baie van die slagoffers weet nie wat hulle moet doen en waar om vir hulp aan te klop nie.
“Ons organisasie het in Maart vanjaar in samewerking met die universiteit ‘n toolkit bekendgestel.”
Die “toolkit” bevat die basiese inligting oor wat slagoffers stap-vir-stap moet doen indien hulle seksueel mishandel of verkrag word.
“Ons fokus nou meer op plaasgebiede en hoop om meer gemeenskappe met die toolkit te bereik. Bewusmaking- en voorkomingsprojekte is iets wat tans baie aandag geniet en ons hoop om meer fasiliteerdes te ontwikkel en bande met ander organisasies te versterk om sodoende die euwel in verskillende gemeenskappe hok te slaan,” sê Passenz.
Sy vertel trots dat twee van die organisasie se lede binnekort Kenia en Europa toe gaan om met organisasies daar saam te werk en bande te versterk. “Ons wil ook meer betrokke raak met ondersteu-
ning aan slagoffers by die hof en werkskeppingsprojekte is hoog op ons prioriteitslys,”
Inwoners word ook aangemoedig om slagoffers tydens hofverskynnings te ondersteun omdat hulle dikwels alleen voel, en dit is wanneer dinge verkeerd kan gaan.
Volgens Passenz doen die organisasie ook praatjies by skole, kerke en fabrieke en die groep is al twee keer na die Universiteit Stellenbosch genooi om hul verhaal te deel. “Ons is ‘n dinamiese span wat op die stryd teen geslagsgebaseerde geweld gefokus is,” sluit Passenz af.




