Murphy Roberts

Young Hearts het Saterdag sy droom seisoen voortgesit en is steeds die enigste onoorwonne span in die Boland Grootuitdaagbeker se Weskus-streek.

Die troepe van die grafkelder het die Cove in die Agterbaai met 34-13 geklop nadat hulle rustyd 12-10 voor was. Young Hearts, wat wankelrig begin het, was goed in toom gehou deur die tuisspan en moes ook alles uithaal. Cove, wat die grootste deel van die eerste helfte in beheer van sake op sy tuisveld was, was ook met enkele minute oor nog 10-5 voor.

Young Hearts het egter met ‘n verdoelde drie hul neus voorgekry. Die tuisspan het met rotsvaste verdediging ook die besoekers op die agtervoet gehou. Young Hearts het ook getoon dat die span oor genoeg dieptes beskik nadat 11 eerste keuse spelers die week moes onttrek weens ‘n grieppandemie wat die span getref het.

Young Hearts het egter die tweede helfte vinnig begin en ook hul voorsprong vergroot. Die span van Pella het daarna die krane behoorlik oopgedraai en die besoekers wat goeie rekenskap van hulself in die eerste helfte gegee het, moes toe keer vir al wat hul werd is.

Die bonuspunt-oorwinning het ook Young Hearts ses punte voor St. Helenabaai geplaas. Met nog twee wedstryde oor in die eerste rondte is dit Young Hearts en St. Helenabaai wat tans die pas aangee.

Volledige naweek-uitslae,

• Weskus

Vredenburg 9 – 27 St Helena, Piketberg 22 – 25 Hopefield, Goedverwacht 20 – 52 Paternoster, Langebaan 40 – 42 Velddrif en Steenberg’s Cove 13 – 34 Young Hearts

• Swartland

Wesbank 26 – 20 Abbotsdale, Darling 10 – 15 Porterville, Riebeeck United 19 -18 Moorreesburg, Villagers Wittewater 29 – 16 Mamre, Voorberg- Never Despairs en Saron 20 – 36 Goodhopes.

Die naweek pak:

• Weskus

Young Hearts t. Langebaan, Saldanha t. Vredenburg, St. Helena t. Goedverwacht, Paternoster t. Piketberg en Hopefield onthaal Steenberg’s Cove terwyl die derde geplaasde Velddrif ‘n blaaskans neem.

• Swartland

Darling t. Wesbank, Porterville t. Voorberg, Good Hopes t. Abbotsdale, Moorreesburg t. Wittewater, Never Despair t. Riebeeck United terwyl Mamre na Saron reis.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 28 April 2026
    WeskusNuus E-Edition – 28 April 2026

Gift this article