Murphy Roberts
Die familie van die vermoorde Reginald “Reggie” Sampson (31) en sy erg beseerde neef Jason Sampson (35), is bitter teleurgesteld oor die regstelsel.
Volgens ‘n familielid het hulle ‘n petisie ingehandig dat die verdagtes nie borgtog moet kry nie, maar die verdagtes is almal vrygelaat sonder om ‘n sent borg te betaal.
Die familielid het gal gebraak dat hulle in die hof moes hoor dat geen getuieverklarings deur die ondersoekbeampte geneem is.
“Ons as ‘n familie is baie teleurgestel in die gereg wat ons gefaal het deur gratis borgtog aan die verdagtes toe te staan nadat alle bewyse, petisies en getuies wat bereid was om te praat, vorendag gekom het, maar vir die een of ander rede het die speurder nog nooit die verklarings van die getuies geneem nie,” kla die familie.
Die familielid vertel verder dat die speurder nooit moeite gedoen het om die getuies te kontak nie. “Ons as familie lewe nou in vrees,” vertel die lid.
Reggie is wreed vermoor en Jason is steeds onder mediese sorg en het reeds verskeie operasies ondergaan.
“Die stelsel is nie regverdig [nie]; terwyl mense duisende rande borg moet betaal vir minder ernstige misdade, stap moordenaars sonder [om ‘n] sent [te betaal] uit die hof, en as iemand dalk kan verduidelik, sal ons miskien verstaan,” het ontstellende familielede gal gebraak.
Reginald, van Atlantis, is op 9 Februarie tragies dood toe hy en sy neef Jason deur verskeie mans aangeval is.
Dié aanval het gevolg omdat hy glo met ‘n vrou gestry het oor hoeveel bierkiste sy na die drankwinkel gebring het. Jason het veelvuldige steekwonde opgedoen, maar het die sinnelose aanval oorleef.
Volgens inligting het ‘n vrou die drankwinkel waar Reggie en Jason gewerk het, besoek en wou kiste bier vol maak. Sy het glo volgehou sy het vyf kiste gebring, maar volgens die kameras was dit net drie. Reggie het dit aan die vrou genoem en dis toe sy glo haar humeur verloor en gesê het “Jy gaan nou sien.” Die vrou het later met die mans teruggekom en die twee is aangeval. Beeldmateriaal van die voorval is op sosiale media versprei.
• Die verdagtes moet op 9 Junie weer in die hof verskyn.




