Murphy Roberts
Die Mamre-karateklub Kazoku- Seiwakai Karate het onlangs 14 studente na die Wes-Kaapse toernooi in Februarie gestuur en 12 van hulle het met medaljes teruggekeer. Die groep, wat die Wes-Kaap verteenwoordig het, het ook goeie rekenskap van hulself gegee. Volgens een van die twee afrigters, sensei Alfphonso, is die groep ook in die Wes-Kaapse oefengroep opgeneem. Die studente, wat deur Montell Blankenberg en Alfphonso afgerig word, is trots op die groep se prestasies. Volgens Blankenberg het Zachery Berlin ook die dorp se naam hoog gehou tydens die onlangse Suid-Afrikaanse kampioenskap in Durban. Berlin, wat in die 14-tot-15-jarige-ouderdomsafdeling deelgeneem het, het twee bronsmedaljes huis toe gebring. Volgens die afrigters maak dit Berlin een van die bestes in sy afdeling en kan hy net nog verbeter.



