Sy is ‘n dinamiese sakevrou wat nie skroom vir ‘n uitdaging nie; wat graag nuwe idees en sakeplanne met ope arms ontvang.
Annelie Fouché van Kroonstad het geen bekenstelling nodig nie. Die nuutste toevoeging tot haar wye verskeidenheid sakeondernemings is die kantoor-en-sakekompleks Hartley’s Corner, wat sy onlangs in dié dorp geopen het.
By die kompleks word haar sakeondernemings Prestige Financial Services, Prestige Pawn Brokers en Style-tique bedryf. Die Plant Factory-kwekery, asook ‘n Tjhoko-verf- en ‘n skryfbehoeftewinkel, word ook in die kompleks gehuisves.
“Nadat ek jare lank in verskeie ondernemings en sektore werksaam was, het daar ‘n geleentheid oor my pad gekom om my eie onderneming te begin. Daarna het nuwe uitdagings gevolg, en vandag staan ek opreg dankbaar vir die geleenthede wat my pad gekruis het.”
As sakevrou staar sy soms verskeie uitdagings in die oë, maar dan kom sy net tot stilstand om oor alles te besin. Goeie beplanning met bepaalde grense is vir haar ‘n voorkeursaak.
“Om balans tussen werk, huis, ma- en vrouwees te vind, was nog altyd vir my ‘n uitdaging, omdat ek myself as werkverslaafde beskou. Maar wanbalans hoef nie noodwendig jou vyand te wees nie. Solank jy 100% teenwoordig is wanneer jou geliefdes jou nodig het, is selfs ‘n paar minute gehaltetyd soms genoeg. Maak tyd vir mekaar, luister aandagtig en koester oomblikke saam met jou mense.”
Annelie sê dit is nie maklik om positief te bly onder alle omstandighede nie, maar sy het deur die meule van die lewe geleer om met grasie deur emosies te werk.
“Wanneer die lewe druk, onttrek ek van alles, stof myself af; ek staan weer op en ek probeer weer. Ek put my energie uit stilwees: stil voor die almag van God. Stil in die aanskoue van die natuurskoon. Stil voor ‘n kunswerk. Stil om net weer in voeling met myself te kom.”
Annelie is gebore en getoë in Pretoria en is die oudste kind van Johan en Fransie Scholtz. Sy het aan die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad gematrikuleer, waarna sy ‘n graad in BCom-honneurs in bedryfsielkunde aan die Noord-wes-Universiteit (NWU) in Potchefstroom, asook ‘n hoër diploma in finansiële bestuur aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) verwerf het.
Buiten dat sy 12 jaar lank heeltyds as finansiële adviseur gewerk het, was sy ook ‘n dosent aan die destydse Technikon Vrystaat.

Haar trots is haar drie kinders. Haar seun, Anardo, bedryf saam met haar Prestige Financial Services. Haar oudste dogter, Geandré, is die eienaar van die Sonstraatjie Stimulasie Sentrum in Kroonstad, en haar jongste dogter, Stephli-Ann, studeer onderwys aan die NWU.
“Ek het ‘n passie vir die mooi van die lewe: kuns, die natuurskoon, goeie musiek, teater en ‘n goeie boek. Ek hou daarvan om rond te reis en nuwe plekke te sien,” sê Annelie.
Haar raad aan vroue in dié Vrouemaand is: “Daar is krag in ‘n vrou wat die Here dien. Kies jou span en ondersteuningsnetwerk reg − mense wat jou 100% ondersteun. Bewaar jou oë en ore en moenie skinder of ‘n gevangene wees van die soms onrealistiese samelewing nie. Meet jouself aan Goddelike standaarde en nie aan die uiterlike en materiële nie.
“Wees ‘n vrou, al staan jy jou skoene in ‘n manswêreld vol. My gunsteling-sêding is: ‘As jy iets gedoen wil hê, gee dit vir ‘n vrou!’
“Bou vir jou kinders ‘n nalatenskap − jy bou immers hul fondament en uitkyk op die lewe. Die saad wat jy in jou kinders se lewe saai, sal ‘n oes vir jou nageslag verseker.
“Enkelouers of weduwees is nie halwe mense nie, moenie toelaat dat mense jou so laat voel nie.
“Maak die beste van elke dag, ongeag omstandighede.
“Hoewel dit lekker kan klink om jou eie onderneming te bedryf, verg dit baie harde werk en vereis dit soms vakansie op die strand met jou selfoon en skootrekenaar in die hand.
“Hou op kla en wees dankbaar vir dit wat jy al bereik het. Kyk ‘n slag terug en besef hoe ver die Here jou al gebring het.
“Omhels elke seisoen, want die Here stuur dit oor jou pad vir karakterontwikkeling. Spandeer tyd saam met God en priotiseer jou verhouding met familie en vriende; en sien om na jou ‘pakkie’ waarmee God jou geseën het – jou geliefdes, diere, huis en talente.”
“May I never forget on my best day that I still need God as desperately as I did on my worst day!”



You must be logged in to post a comment.