Tannie Coba Schabort (109) is Sondag oorlede.
Tannie Coba Schabort (109) is Sondag oorlede.

Geliefde tannie Coba (109) van Bloemfontein oorlede

, ,

Een van Bloemfontein se oudste inwoners, Jacoba Elizabeth Coba Schabort (née Olivier), is Sondag in die rype ouderdom van 109 jaar oorlede.

Sy was met haar dood die Hoër Meisieskool Oranje se oudste lewende oudleerder en die Voortrekker-lid wat die langste (93 jaar) lid van dié beweging was.

Tannie Coba het op 29 April haar 109de verjaardag gevier.

Ouma Coba Schabort wat op Maandag 29 April haar 107de
Ouma Coba Schabort op haar 107de verjaardag in 2024 saam met twee van haar kleinkinders: Ilse Marais en haar tweelingbroer, Jannie Nel. FOTO: Verskaf

Willie Engelbrecht, gebiedsbestuurder van Die Voortrekkers in die Vrystaat, sê tannie Coba was met die stigting van Die Voortrekkers in 1931, ‘n lid van die beweging.

LEES OOK: Jongmense vind al 95 jaar tuiste by Die Voortrekkers

Haar kleinkind Ilse Marais skryf in ‘n boodskap: “Ouma was vir ons ‘n voorbeeld van liefde en geloof. Deur Ouma se lewe het ons geleer hoe om die Here te dien en in Sy liefde te wandel.

“Dankie vir al Ouma se liefde, wysheid en die kosbare herinnering wat ons vir altyd in ons harte sal bewaar.”

Met haar 107de verjaardag in 2024, het Ilse haar ouma beskryf as ‘n engel wat die Hemelse Vader vir hulle geleen het.

LEES OOK: ‘Engel’ vier 107de verjaardag

Sy het tot haar dood in Ons Tuiste in Westerbloem gewoon.

In haar lewe het sy baie beleef. Sy was een jaar oud in 1918 toe die Groot Griep uitgebreek het en het meer as ‘n dekade later Covid-19 beleef. Sy was die enigste lid van haar huisgesin wat destyds nie die Spaanse Griep gekry het nie.

https://www.facebook.com/reel/10157652711197322

Tannie Coba is in 1917 op die dorp Klipdam naby Barkley-Wes gebore.

Die dorpie Reivilo is na haar pa, Ds. A.J. Olivier, genoem. Dit is sy van, wat net agterstevoor geskryf word.

Sy het haar skoolloopbaan aan die Hoër Meisieskool Oranje voltooi in óf 1934 of 1935, niemand is presies seker nie.

Sy was die tweede van vyf sussies en is die enigste van die vyf wat tot nou toe geleef het.

Die ander sussies het almal hoë ouderdomme bereik.

Die kleinsus Tinka Botha is op die ouderdom van 83 in ’n motorongeluk oorlede. Ousus Johanna Potgieter het 100 jaar oud geword; Paula Coetzer is op 95 oorlede; en Marie Joubert is op 97 oorlede. Vier van die sussies is destyds met predikante getroud en een met ’n dokter.

Tannie Coba is in haar jong dae met ds. Louis Lehmkuhl getroud.

Alet Meyer, voorsitter van die Hoër Meisieskool Oranje se reüniekomitee
Alet Meyer, voorsitter van die Hoër Meisieskool Oranje se reüniekomitee, wens tannie Coba geluk met haar 108ste verjaardag verlede jaar. FOTO: Facebook

’n Hele paar jaar ná sy dood, is sy met oom Bos Schabort van Frankfort getroud.

Sy het drie kinders gehad: Nico Lehmkuhl en Heléne Wilke (née Lehmkuhl), wat albei oorlede is; en Annalet Nel (née Lehmkuhl) wat nou 82 is.

Marais het gesê haar ouma Coba was ’n sagte mens met die grootste hart.

“Sy het nooit iets leliks van ander gesê nie. Sy is ’n groot Christen en leef na aan die Here. Sy is ’n voorbeeld vir baie en probeer altyd die positiewe raaksien.”

Sy sê haar ouma is iemand waarna die hele familie opkyk.

Tannie Coba het nege kleinkinders, 15 agter­kleinkinders en twee agter-agterkleinkinders.

Besonderhede van haar begrafnis is nog nie bekend gemaak nie.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article