BLOEMFONTEIN – Die Voortrekkers vier vandag sy 95ste verjaardag – ‘n besonderse mylpaal van ‘n beweging wat sedert 1931 ‘n tuiste vir jongmense gebied het.
Nelmari Oosthuysen, woordvoerder van Die Voortrekkers, sê die beweging staan ná 95 jaar steeds rotsvas. “Die Voortrekkers vier op 30 September sy 95ste bestaansjaar met ’n boodskap wat nie net terugkyk op ’n besondere geskiedenis nie, maar doelbewus vorentoe kyk om ’n nuwe geslag toe te rus om ligdraers in die wêreld te wees.”

Met die mylpaal kyk Die Voortrekkers terug op generasies kinders, duisende kampvure, vaardighede wat aangeleer is, vriendskappe wat gevorm is, leiers wat ontwikkel is en waardes wat van een geslag na die volgende oorgedra is.
“So ‘n verjaardag gaan oor veel meer as nostalgie. Dit gaan oor wat ons vir ons kinders gee waarmee hulle môre koers kan hou. Die antwoord lê opgesluit in die jaartema vir 2026 – Voortrekkers as ligdraers in die wêreld.”
Dit is die boodskap waarmee Die Voortrekkers sy 95ste jaar vier: karakter, diensbaarheid, geloof, vaardigheid en leierskap is nie waardes uit ’n vorige era nie. In ’n wêreld wat vinnig verander, is dit juis eienskappe waarmee jongmense toegerus moet word om met selfvertroue hul plek in die wêreld vol te staan.
Die feesjaar het ook ’n musikale stem gekry met “Rotsvas”, uitgevoer deur Adam Tas en Liezel Pieters. Die lied is op 17 Julie uitgereik en geskryf deur Oosthuysen.
Die musiekvideo voeg ’n besonderse moderne dimensie tot die verhaal toe. Die historiese gipsmodelle wat deel gevorm het van die skeppingsproses van die Voortrekkermonument in Pretoria se bekende marmerfries en vandag in die Vrijheidsreis-uitstalling bewaar word, word met behulp van kunsmatige intelligensie (KI)-tegnologie tot lewe gebring. Figure wat dekades lank bewegingloos in gips vasgevang was, beweeg skielik voor die kyker.

Só ontstaan ’n treffende brug tussen erfenis en tegnologie – tussen die verhale wat vorige geslagte bewaar het en die nuwe maniere waarop vandag se jongmense dit kan ontdek en beleef.
Die verlede word nie agtergelaat nie – dit kry nuwe lewe vir ’n nuwe geslag.
Die wêreld waarin ’n Voortrekkerkind vandag grootword, lyk radikaal anders as dié van 1931.
Tegnologie verander. Die uitdagings waarmee jongmense te doen kry, verander.
Maar die behoefte aan jongmense wat kan dink, doen, dien, lei en koers hou, het nie verdwyn nie.
Oosthuysen sê Die Voortrekkers se uitdaging ná 95 jaar is daarom nie bloot om tradisie te bewaar nie, maar om dit betekenisvol te laat voortleef. “Om jongmense praktiese vaardighede te leer, geleenthede vir leierskap te skep, gemeenskapsbetrokkenheid aan te moedig en hulle toe te rus om verantwoordelikheid vir hul eie optrede én teenoor ander te aanvaar.
“Van ’n kind wat vir die eerste keer leer vuurmaak, kaartlees of noodhulp toepas tot ’n jongmens wat leer om leiding te neem – hierdie klein oomblikke word deel van iets veel groter.
“Dit is hoe lig aangegee word.”





You must be logged in to post a comment.