Daar wag nog ‘n tyd van intensiewe kankerbehandeling, maar Courtney Butler (21) is vol moed vir die toekoms.
Courtney, die oudste dogter van Mirna en Dwight Butler, se lewe is vroeër vanjaar erg ontwrig toe sy met ‘n skaars soort kanker gediagnoseer is.
Sy het vanjaar begin met haar tweedejaar-studies in onderwys aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) en het by ‘n studiesentrum gewerk.

Dit moet nou alles wag terwyl sy vir neuskanker behandel word.
Die oudleerder van die Hoër Meisieskool Oranje, wat haar lewe lank nog baie gesond was, het vroeër vanjaar gereeld erge hoofpyn gekry en sy sê haar neus was seer.
“Ons het reeds ‘n afspraak by ‘n oor,- neus- en keelspesialis gehad, toe sy een aand baie sleg begin voel,” vertel Mirna.
“Ons het almal in die motor gespring en met haar hospitaal toe gejaag toe sy daar in die motor ‘n epileptiese aanval kry.”
Mirna sê die aanval op 30 Maart was op ‘n manier ‘n bedekte seën. “Die mediese personeel het geweet daar is ernstig fout en het ‘n skandering gedoen waarna die gewas ontdek is.”
Ongedifferensieerde sinus-nasale karsinoom is by Courtney gediagnoseer.
Dit is ‘n gevaarlike, skaars tipe kanker wat in haar sinusholte ontwikkel het.
Die hele gesin het in Mei Kaap toe gegaan waar Courtney op 15 Mei in die Netcare Chris Barnard Memorium-hospitaal geopereer is. Tydens die operasie is die gewas wat in haar sinusholte begin het en deur die skedel tot teen haar breinvleis gegroei het, deur haar neus verwyder.
Weefsel is uit haar been geneem en daar is ook ‘n stukkie van die binnekant van haar neus geneem om die gat in haar skedel, te vul.
Die operasie het agt uur geduur.
Sy is op 23 Mei uit die hospitaal ontslaan en die gesin kon einde Mei terugkeer huis toe.
Verlede week tydens ‘n afspraak met die onkoloog, het Courtney gehoor dat sy chemoterapie asook gefokusde bestraling moet ontvang.
Ondanks die behandeling wat voorlê, het Courtney baie planne.
Sy wil ‘n aanlynwinkel begin waarop sy geborduurde T-hemde verkoop.
“Ek wil my eie geld verdien,” sê Courtney oor haar planne.
Sy skryf ook haar ervarings neer om dit eendag met mense te deel.
“My familie ondersteun my met baie liefde,” sê Courtney oor haar ouers en jonger sussie, Abigail, wat nou in gr. 11 in Oranje is. “Die mense van Bloemfontein en die medici is baie goed vir ons,” sê sy dankbaar oor die gemeenskap se ondersteuning die afgelope maande.
Lees meer oor Courtney se reis op haar Facebookblad Courtney in Bloom.






You must be logged in to post a comment.