Hoërskool Witteberg se tienertoneelspan het verskeie eerbewyse by die Allegretto Toneelfees in Ermelo ontvang.
Die span het op Donderdag 27 Augustus met hul produksie Op soek na Sondag aan die fees deelgeneem.
Die produksie het eerbewyse vir Beste Drama en Beste Regie ontvang. Die span het ook erkenning vir hul dekor, kostuums, grimering en klanksamestelling ontvang. Individuele spanlede het goue eerbewyse vir hul bydraes ontvang.
Erné van Aswegen is met goud vir verhoogbestuur en tegniese aspekte bekroon, terwyl Gerhard Nel goud vir klankoperasie, klankontwerp en tegniese aspekte ontvang het. Suné Hills is vir beligtingsontwerp en tegniese aspekte met goud vereer.
Emma van Aarde het goud ontvang vir haar werk met beligting, tegniese aspekte, dekor en kostuums, terwyl Johanné Schoeman vir kostuums, grimering, tegniese aspekte, dekor en verhooghulp bekroon is.
Die ensemblelede Kate van Aarde, Lizzy Harris, Lucian Bernard en Willa van der Merwe het elk goue toekennings ontvang. Chenelle Warden en Annibel van der Merwe is vir hul werk agter die skerms met goud beloon.
Leonelle van Niekerk het goud ontvang vir haar vertolking van Maandag, Alné Schoeman vir Dinsdag, Martyn Oosthuysen vir Woensdag, Lexi Willemse vir Donderdag en Charlize Saaiman vir Vrydag. Die vyf is ook vir hul deelname aan die ensemble met goud bekroon.
Ronelle van Heerden, die span se regisseur, het vir haar regie ‘n goue eerbewys ontvang.
Willa van der Merwe het benewens haar goue ensemble-eerbewys ook ‘n silwertoekenning ontvang vir haar vertolking van Saterdag.
Leerders was verantwoordelik vir klank, beligting, dekor, kostuums, grimering en verhoogbestuur.



