Dit was ’n hartseer dag vir die Van Zyl-gesin van Cheetau Lodge in die Oos-Vrystaat toe hul oudste mannetjiesleeu, die geliefde Simba, skielik aan ’n beroerte oorlede is.

Die leeu is op Vrydag 6 Februarie op die wildsplaas buite Bethlehem dood. Volgens die eienaars was hulle besig met instandhoudingswerk aan die kampe toe Simba nog sy kenmerkende, kragtige brul gegee het en geensins siek voorgekom het nie.

Later die middag het hy egter gaan lê, waarna skuim skielik aan sy bek verskyn het. ’n Veearts is onmiddellik ontbied en het bevestig dat Simba waarskynlik ’n beroerte gehad het. Ondanks vinnige optrede kon hy nie gered word nie.

Sy heengaan het nie net sy eienaars diep geraak nie, maar ook sy wyfie, Nala. “Arme Nala soek die heeltyd na Simba. Ons kan sien sy is net so hartseer en treur net soos ons oor sy skielike dood,” sê eienaar, Marie van Zyl.

Simba word beskryf as ’n majestueuse dier wat gereeld bewondering is deur gaste wat die plaas besoek het. Hy was een van die mees afgeneemde leeus op die plaas en het bekend gestaan vir sy indrukwekkende swart maanhare en sterk voorkoms. “Hy was ’n besondere mooi en kragtige leeu. Dit voel werklik of ons ’n kind aan die dood afgestaan het,” sê ‘n hartseer Van Zyl. 

Die Van Zyl-gesin het Cheetau Lodge in 2012 gekoop. Die naam “Tau” beteken “leeu” in Sotho. Simba was een van hulle eerste leeus en het saam met ’n tier grootgeword. Die tier is egter vroeër noodlottig deur weerlig getref. Simba laat ook ’n trotse nalatenskap agter as pa van verskeie welpies wat hy saam met Nala gehad het.

Cheetau Lodge is sowat 13 km buite Bethlehem op die R26 in die rigting van Fouriesburg geleë. Besoekers kan onder meer bruin en wit leeus, Bengaalse tiere, swart luiperds en tierboskatte van nader kan besigtig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article