Boodskappe van meegevoel en ondersteuning het van oraloor op sosiale media ingestroom nadat die bekende Kroonstadse veearts JW Eksteen ernstig in ’n voorval op ’n wildsplaas buite Clocolan beseer is.
Volgens inligting het die voorval op Maandag 9 Februarie plaasgevind op ‘n wildsplaas buite Clocolan waar die 51-jarige Eksteen deur ‘n buffel oorval is. Die presiese omstandighede rondom die voorval is nog nie bekend nie.
Eksteen is onmiddellik na drs. Joubert en Beeton in Clocolan geneem, waar hy behandel en gestabiliseer is waarna hy per helikopter na MediClinic Bloemfontein vervoer vir verdere behandeling. Dr. Braam Joubert het hom tydens die oorplasing vergesel, terwyl die ER24-nooddiens vooraf gereël het vir sy aankoms in Bloemfontein.
Eksteen word tans in die hoësorgeenheid van dié hospitaal behandel. Volgens die familie se woordvoerder, Danie Minnaar van Kroonstad, is Eksteen se toestand stabiel, maar kritiek.
Die familie het hul opregte dank uitgespreek teenoor drs. Joubert en Beeton, ER24, asook die dokters en personeel van MediClinic Bloemfontein vir hul vinnige optrede, professionele diens en toegewyde sorg.
“Die familie bedank ook elke persoon wat hulle in gebed opdra, boodskappe stuur en ondersteuning bied in hierdie moeilike tyd. Dit beteken ongelooflik baie vir hulle,” het Minnaar gesê.
Die familie versoek verder dat hul privaatheid in hierdie tyd gerespekteer word sodat hulle op Eksteen se behandeling en herstel kan fokus.




