Die Moqhaka-brandbeskermingsvereniging doen 'n beroep op grondeienaars om vernietigende veldbrande te voorkom.
Verwoestende veldbrande veroorsaak jaarliks groot verliese. FOTO: Madli Grobbelaar

Droë veld verhoog brandrisiko in die Vrystaat


Kurkdroë veldtoestande en die winter se strawwe koue in die Vrystaat verhoog die gevaar van verwoestende veldbrande.

Daarom doen die Moqhaka-brandbeskermingsvereniging (BBV) ‘n dringende beroep op boere en ander grondeienaars om hulself betyds voor te berei voordat die jaarlikse brandverbod op oop vure op Saterdag 1 Augustus in werking tree.

Die vereniging waarsku dat veldbrande jaarliks miljoene rande se skade aanrig deur weiding, oeste, heinings, infrastruktuur, vee en wild te vernietig.

Nog ernstiger is die gevaar wat onbeheerde brande vir menselewe inhou.

“Die oorgrote meerderheid veldbrande kan voorkom word. Goeie voorbereiding, verantwoordelike optrede en vinnige reaksie bly die belangrikste wapens teen brande,” sê Marchant Watson, voorsitter van die BBV.

Volgens Watson kan warm, droë en winderige toestande selfs die kleinste vonk binne minute in ‘n onbeheerde veldbrand laat ontwikkel. Wanneer die brandverbod op 1 Augustus in werking tree, mag geen oop vure gemaak word nie en behoort brandbestrydingstoerusting en spanne deurentyd gereed te staan.

Hy maan grondeienaars om reeds nou seker te maak dat brandstroke behoorlik voorberei en onderhou is, brandbestrydingstoerusting in werkende toestand verkeer, waterpompe, brandspuite en tenks getoets is en voertuie en sleepwaens diensbaar bly.

Personeel behoort opgelei te wees, kommunikasietoerusting moet betroubaar funksioneer en noodkontaknommers moet maklik beskikbaar wees sodat vinnig opgetree kan word. Volgens Watson ontstaan baie veldbrande steeds as gevolg van menslike nalatigheid.

Sweis- en slypwerk in droë gras, brandende sigarette wat weggegooi word, voertuie wat deur lang droë gras ry, defekte uitlaatstelsels, onbeheerde kamp- en afvalvure, asook elektriese foute bly van die algemeenste oorsake van verwoestende veldbrande.

” ‘n Paar minute se versigtigheid kan ure se brandbestryding en enorme finansiële verliese voorkom,” sê hy.

Verder wys hy daarop dat veldbrande geen plaasgrense of eiendom respekteer nie.

Goeie kommunikasie tussen bure, vinnige reaksie en noue samewerking maak dikwels die verskil tussen ‘n brand wat vinnig onder beheer gebring word en ‘n ramp wat buite beheer versprei.

Die BBV moedig alle grondeienaars aan om aktiewe lede van die vereniging te word, aan opleiding en oefeninge deel te neem en brandvoorkomingsinisiatiewe te ondersteun.

“Voorkoming bly die goedkoopste en doeltreffendste manier om lewens, vee, oeste en eiendom te beskerm.”

Die BBV herinner inwoners dat vinnige optrede tydens ‘n veldbrand van kritieke belang is.

Enigiemand wat ‘n veldbrand opmerk of hulp benodig, kan Watson by 063 577 4395, JP Hamel (brandbeskermingsbeampte) by 071 971 5705, Ilze Venter (brandkoördineerder) by 082 952 5692 of Megan Mostert (sekretaresse) by 078 296 9028 kontak.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article