BETHLEHEM – ‘n Digter van Bethlehem, Coenie Horak, se poësie vind toenemend aanklank in die Afrikaanse letterkundige wêreld en is opnuut opgeneem in ‘n koffietafelboek – dié keer een wat die invloed van kunsmatige intelligensie op die mens en sy geloofslewe ondersoek.
Die boek, God, Mens en Masjien, wat onlangs verskyn het, vorm deel van ‘n reeks koffietafelboeke wat deur Pieter Mostert nagevors en saamgestel word.
Elke publikasie werp lig op ‘n spesifieke onderwerp, op ‘n deeglik nagevorste en toeganklike wyse, terwyl Horak se gedigte as kreatiewe aanvulling die temas met emosie, verbeelding en geestelike diepgang verryk.
Mostert kombineer in sy publikasies poësie met Bybelse waarhede, die skepping en ekologiese vraagstukke om lesers uit te nooi om met nuwe oë na God, die natuur en hul plek daarin te kyk.
Volgens Mostert maak Horak se besondere hantering van die digkuns en sy unieke poëtiese invalshoek hom ‘n onmisbare deel van die metaforiese legkaart wat deur die boeke gevorm word.
Horak se gedigte is reeds opgeneem in die koffietafelboeke Roofvoëls deur die oë van digters en God, Mens en Masjien. Laasgenoemde ondersoek die verhouding tussen kunsmatige intelligensie, die mens en geloof, en plaas sy verse in ‘n vars konteks; konteks wat hom tot nadenke leen.
Sy digwerk sal ook verskyn in twee nuwe publikasies waaraan Mostert werk, naamlik: Die Skepping deur die oë van digters en Waarom het God vir ons emosies gegee?
Hierin sal Horak se poësie weer ‘n belangrike bydrae tot verkenning van die temas lewer.
Mostert se koffietafelboeke onderskei hulle deurdat digterlike verbeelding, geestelike insig en toeganklike oordenking op ‘n unieke wyse met mekaar verweef word.
Roofvoëls deur die oë van digters en God, Mens en Masjien is direk by Mostert beskikbaar.
Horak is verbonde aan die Bethlehem-tutorsentrum in Môrelig, waar hy werk.





