Die departement van landbou, landelike ontwikkeling en omgewingsake in die Vrystaat het 10 nuwe gevalle van bek-en-klouseer (BKS) in verskeie dele van die provinsie bevestig, wat die getal gevalle op 433 te staan bring.
Die nuutste gevalle, wat op Saterdag 11 April bevestig is, is aangemeld in: Winburg (2); Bultfontein (1); die omgewing van Welkom, Odendaalsrus, Ventersburg, Hennenman en Virginia (1); Kroonstad (1), Viljoenskroon en Vredefort (2); Vrede en Memel (2); en Qwaqwa en Harrismith (1). Volgens die departement is die siekte reeds in 18 plaaslike munisipaliteite in die provinsie bevestig, terwyl voortgesette uitbrekings steeds groot druk op die veesektor en pogings tot inperking uitoefen.
Die swaarste getrefde gebiede sluit in Viljoenskroon en Vredefort in die Moqhaka-munisipaliteit, met 69 bevestigde gevalle; asook Parys en Vredefort in die Ngwathe-munisipaliteit, met 50 gevalle.
Ander beduidende brandpunte sluit in Sasolburg en Deneysville (46); Frankfort, Cornelia en Villiers (35); en Bethlehem (14), terwyl kleiner dog steeds aktiewe uitbrekings ook aangemeld is in: Ladybrand en Hobhouse; Smithfield en Rouxville; en Bloemfontein. Die departement beklemtoon die verspreiding van die siekte word deur verskeie gelokaliseerde uitbrekings aangevuur, ondanks volgehoue inenting- en inperkingsmaatreëls.
‘n Inentingsveldtog is aan die gang nadat 200 000 dosisse van die Biogenesis Bago-entstof op 25 Februarie ontvang is, gevolg deur nog 195 000 dosisse van die Dollvet-entstof in Maart. Die inentingsprogram in al vyf distrikte het op 26 Februarie begin, en tot op hede is 312 414 beeste met die beskikbare entstowwe ingeënt.
Boere word aangemoedig om aansoek te doen vir inenting, sodat die beplanning en toewysing van entstowwe meer doeltreffend bestuur kan word.
Beheermaatreëls vir die beweging van diere bly in werking, met alle plase binne ‘n radius van 10 km van besmette eiendomme wat onder kwarantyn of voorkomende waarneming geplaas word.
Die departement het sy kommer uitgespreek oor boere wat versuim om gevalle aan te meld van wat hulle vermoed BKS kan wees. Die departement en waarsku dat sodanige optrede nie net ‘n strafbare oortreding is nie, maar ook ‘n ernstige belemmering vir doeltreffende siektebeheer inhou. Volgens amptenare lei die weerhouding van inligting tot verdraaide data, wat die beplanning en toekenning van entstowwe bemoeilik en die risiko van verdere verspreiding verhoog.
Kommer neem toe oor gebrekkige nakoming van biosekuriteitsmaatreëls. Boere word herinner aan hul wetlike verpligtinge ingevolge artikel 11 van die Wet op Dieresiektes, wat vereis dat alle redelike stappe gedoen moet word om die uitbreking en verspreiding van die siekte te voorkom.
Die departement maan dat die beweging van diere wat onder kwarantyn geplaas is sonder magtiging ‘n strafbare oortreding is, en doen ‘n beroep om samewerking.





