BETHLEHEM – ‘n Gr. 10-leerder aan die Hoërskool Voortrekker in Bethlehem, het op ‘n jong ouderdom reeds haar merk as entrepreneur gemaak.
Nadat Salome Fourie (17) vanjaar ‘n plek onder die top 30 jong entrepreneurs in Suid-Afrika in die Maak My ‘n Miljoenêr-kompetisie verwerf het, het sy nou nog ‘n mylpaal bereik met die publikasie van haar eerste boek, Een Keuse, ‘n Hele Reis. Die boek, wat deur Hoogland Pers uitgegee word, vertel die verhaal van haar entrepreneursreis en die ervarings wat haar gevorm het.
Sy gee lesers ‘n kykie agter die skerms na die harde werk, onsekerheid, teleurstellings en waardevolle lesse wat deel van haar deelname aan die kompetisie was.
LEES OOK: Tiener wat besluit om te waag en wen, vorder goed in Maak my ‘n miljoenêr
Hoewel haar reis in die kompetisie tot ‘n einde gekom het, sê Salome die ervaring het haar sterker gemaak en haar gemotiveer om volgende jaar met nog groter vasberadenheid terug te keer. Haar onderneming fokus op unieke, handgemaakte kerse. Sy het onlangs ook handgemaakte seep by haar reeks gevoeg, wat sy self met sorg vervaardig.
Volgens Salome het sy besluit om haar storie neer te skryf omdat mense dikwels net die sukses en hoogtepunte raaksien, sonder om te besef hoeveel werk en emosies agter die skerms daarmee gepaardgaan.

Die boek handel egter oor veel meer as net besigheid. Dit vertel ook hoe sy as jong mens gegroei het, haarself beter leer ken het en lesse oor mense, geloof en deursettingsvermoë geleer het.
Salome hoop haar verhaal sal jongmense aanmoedig om in hulself te glo en die moed te hê om die eerste tree na hul drome te gee, selfs wanneer alles nie volgens plan verloop nie.
Sy beklemtoon dat ‘n mens nie al die antwoorde hoef te hê voordat jy begin nie.
Dit is dikwels juis die uitdagings en foute waaruit ‘n mens die meeste leer. Haar geloof in God en die ondersteuning van haar familie, mentors en ander mense wat deel van haar reis was, het ook ‘n belangrike rol in haar ontwikkeling gespeel.
Vir haar is die publikasie van haar eerste boek op 17-jarige ouderdom ‘n besondere prestasie en ‘n geleentheid om haar ervarings met ander te deel.
Een Keuse, ‘n Hele Reis kos R250 per eksemplaar. Salome hanteer self die verkope en bied landswye versending aan. Belangstellendes kan haar by 081 886 8017 kontak om ‘n bestelling te plaas.
LEES OOK: Bethlehem-leerder beplan om entrepreneursreis voort te sit






You must be logged in to post a comment.