Wat as ‘n droom in ‘n gr. 4-klaskamer begin het, het vanjaar vir Salòme Fourie (16) van die Hoërskool Voortrekker in Bethlehem in ‘n opwindende werklikheid verander.
Salòme, ‘n gr. 10-leerder, vertel dat entrepreneurskap nog altyd haar passie was.
Toe Albert van Wyk en sy span van die Maak my ‘n miljoenêr-kompetisie die afgelope drie jaar haar skool besoek het, het sy elke keer daarvan gedroom om deel te neem.
“Ek wou nog altyd inskryf, maar ek was bang. Vanjaar het ek besluit ek gaan nie langer toelaat dat vrees my keer om my drome na te jaag nie,” sê Salòme.

Op 29 Januarie het sy haar inskryfvideo ingestuur en daarna angstig op die uitslag gewag. Op 20 Maart het sy die nuus ontvang dat sy as deelnemer aanvaar is.
Die grootste verrassing het egter op 1 Junie gevolg, toe sy verneem het dat sy na die volgende ronde van die kompetisie deurgedring het.
Salòme se onderneming fokus op die vervaardiging van handgemaakte kerse wat in verskillende groottes, vorms, kleure en geure beskikbaar is.
Sy stel ook geskenkpakke saam vir spesiale geleenthede soos Moedersdag, Vadersdag en verjaardae.

FOTO: Verskaf
In die volgende fase van die kompetisie gaan Salòme en die ander deelnemers saam met Van Wyk en sy span na verskillende dorpe reis waar hulle aan verskeie uitdagings sal deelneem.
Daarna sal die deelnemers hoor wie die gesogte lys van top 20 jong entrepreneurs in Suid-Afrika haal. Die finale ronde vind in die Oktober-skoolvakansie plaas.
LEES OOK: Jong entrepreneur (14) van Oranje wen Tinteltong-prys
Salòme is reeds besig om die fondament vir ‘n belowende toekoms te lê. Haar kerse sal op die Clarens-mark op Saterdag 13 Junie te koop wees.
Volg haar op Instagram of kontak haar by 081 886 8017.
LEES OOK: Southern African learners invited to 2026 entrepreneurship challenge



