Lees: 2 Korintiërs 9:10-15.

Jy is seker ook een van die gelowiges wat glo dat lewe sal verbeter as God meer eer ontvang? Daar is ‘n manier vir jou en my om dit reg te kry: mededeelsaamheid.

Deur hierdie duidelike bewys van julle bereidheid om te dien, sal daar baie wees wat aan God eer toebring. Hulle sal Hom prys oor julle gehoorsaamheid aan die evangelie van Christus wat julle bely, en oor julle opregte mededeelsaamheid teenoor hulle en teenoor al die ander. – 2 Korintiërs 9:13

Dit is die uitdeel van goed en geld, wysheid en kennis, tyd en teenwoordigheid.

Juis in veranderende tye word God bevraagteken. Wanneer gelowiges uitreik of ontvang, kry God eer, en hoop groei.

Dit vereis ‘n spesifieke soort deel. Nie ‘n soort jammerte vir mense nie. Geen soeke na erkenning of eiebelang. Nie selfbeeld bou of beter voel oor myself nie.

Dit is die uitleef van die evangelie van Christus: “… soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen.” – Johannes 13:15.

Dié soort deel is berekend: Ek sien nood, ek voel ek moet deel, ek praat met God daaroor en doen dan soos Hy sê.

Die seën? Gelowiges help sodat die wêreld sal sien ‘n mededeelsame God, wat sy Seun gegee het, het mededeelsame kinders. My gehoorsaamheid het mense oor die God van my gehoorsaamheid laat praat. Die seën persoonlik? God is bly oor my, en dit is genoeg vir my.

Gebed

Here Jesus, gebruik my gee-sonder-bybedoelings, want ek wil Vader sien glimlag oor my. Amen.

  • Els is ‘n oudleraar van Kroonstad.

LEES OOK: Omgee nou nog nodiger

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article