Philip Mc Laren
Ons lewe in ‘n stukkende wêreld met groot nood. Mense het fisieke, emosionele en geestelike nood en pyn. Mense raak desperaat met hul stukkende huwelike, verbrokkelde gesinne en lewe wat uitmekaar val.

Siektes en dood van geliefdes skep lewenskrisisse by mense. Met sulke omstandighede kan mense maklik op hul eie lewe begin fokus en nie wonder wat met ander gebeur nie.
Dit gebeur dat ek hard moet werk om te oorleef. Ek moet eers oorleef voordat ek na ander kan kyk om te oorleef. Ons ken hierdie manier van lewe om maar net kop bo water te hou.
So maklik raak my lewe selfgesentreerd en is ek gou met alles en almal ontevrede. Ook onthou ons die slagspreuk: “Net die sterkes sal oorleef.”
Dit is nie altyd waar nie, want daar kom ‘n tyd om betrokke by ander te raak; dalk jou familie, jou kollegas by die werk of die klop aan jou deur. Dit is nodig om tyd te maak en net stil te staan, om jou te kyk, en diensbaar in ander se lewe te raak.
Henri Nouwen skryf van “the wounded healer” – die een wat seer ken het deernis met ‘n ander se seer.
So kan ons die liefde van die Here Jesus laat leef met ‘n glimlag, ‘n arm om ‘n gebroke hart en ‘n lewe van dankbaarheid met ‘n ander te deel.
Barnabas het so ‘n oop hart en hande vir ander gehad.
Hy het verstaan dat lippetaal nie die wêreld kan verander nie maar het die nuwe gelowiges aanmoediging en bemoediging.
In Handelinge 11:23 lees ons: “…Barnabas het hulle almal aangespoor om met hart en siel aan die Here getrou te wees.”
In Handelinge 4:36 lees ons van Josef wat Barnabas word. Sy naam en lewe getuig van iemand wat mense moed inpraat. Hierdie gelowiges was nie net op hulself ingestel nie.
Nee, hulle het wat hulle gehad het met ander gedeel. Daar was ‘n absolute vrygewigheid en mededeelsaamheid onder mekaar.
Hul lewe het getuig van omgee en sorg vir mekaar. Die wêreld roep na meer Barnabasse om net stil te word en te luister na ander in nood. Kom laat die Here toe om ook jou naam te verander. Word ook nou ‘n Barnabas wat agter die skerms werk om vir ander hoop te gee omdat jyself jou hoop in Christus gevind het.
■ Mc Laren is van die NG kerk Bedelia.






You must be logged in to post a comment.