WELKOM – ’n Welkom-gesin treur oor die skielike dood van die 27-jarige Ian Visagie, wat Dinsdagaand 20 Oktober in ’n motorfietsongeluk buite Riebeeckstad oorlede is — net drie dae nadat hy met sy vrou, Elisma, getrou het.
Die ongeluk het omstreeks 20:00 plaasgevind toe Ian se motorfiets vermoedelik met ‘n vragmotor gebots het. Die polisie ondersoek die omstandighede rondom die ongeluk.
Die 27-jarige Ian Visagie was op pad om sy nuwe vrou te gaan haal toe sy motorfiets buite Riebeeckstad vermoedelik met ‘n vragmotor gebots het.
Volgens inligting wat deur sy familie gedeel is, was Ian op pad om Elisma by haar ouerhuis in Welkom te gaan haal toe die botsing plaasgevind het.
Elisma, ’n onderwyseres aan die Hoërskool Wessel Maree in Odendaalsrus, is die voorafgaande Saterdag met Ian getroud. Hul lewe as pasgetroudes het skaars begin toe die tragedie hulle tref.
Ian laat sy vrou en hul tweejarige dogtertjie, Tilara, agter.
‘Ek sou jou weer kies’
In ’n hartverskeurende huldeblyk op Facebook het Elisma haar diepe hartseer verwoord oor die verlies van die man met wie sy pas getroud is en die toekoms wat hulle saam beplan het.
“Saterdag het ek mevrou Visagie geword, en teen Dinsdag was ek ’n weduwee. Hoe kan ’n mens se hele wêreld in net drie dae so verander?” het sy geskryf.
Sy het teruggedink aan die lewe wat hulle saam verwag het — om langs mekaar oud te word, hul dogtertjie saam groot te maak en verjaarsdae en huweliksherdenkings te vier.
“Ek het gedink ons het ’n leeftyd voor ons gehad,” het sy geskryf en verwys na die drome en planne wat hulle as egpaar gehad het.
Een van die seerste aspekte van haar verlies, het sy gesê, was dat haar eerste handtekening as ’n Visagie op ’n belangrike dokument op haar man se doodsertifikaat was.
Elisma het geskryf dat sy Ian in elke leeftyd en in elke moontlike wêreld weer as haar man sou kies.
Sy het ook belowe om sy van met trots te dra en seker te maak dat hul dogtertjie van haar pa sal hoor — die man op wie sy verlief geraak het, met wie sy getrou het en vir wie sy altyd lief sal bly.
“Ek het net drie dae gekry om jou vrou te wees, maar ek sal die titel van jou vrou vir die res van my lewe met trots dra,” het sy geskryf.
Sy het haar huldeblyk afgesluit met ’n afskeid aan haar man en die wens uitgespreek dat sy hom nog net een keer kon vashou en vir hom kon sê hoe lief sy hom het.
‘Jy laat ’n groot leemte in ons lewens’
Ian se suster, Jolene Visagie, het ook op Facebook hulde aan haar broer gebring en hom beskryf as iemand wat ’n sentrale rol in haar lewe gespeel het.
In haar emosionele boodskap het sy vertel hoe hy die belangrikheid van familie ter harte geneem het. Sy het ook haar trots uitgespreek oor die pa wat hy vir sy dogtertjie was.
“Enigeen wat my ken, weet dat jy my lewe, my hart is,” het sy geskryf.
Jolene het gesê sy sukkel om te aanvaar dat sy nooit weer haar broer sal hoor of bel nie. Sy het hom as ’n liefdevolle pa beskryf en gesê sy dood laat ’n verwoestende leemte in die lewens van almal wat hom geken het.
Sy het ook die hoop uitgespreek dat sy altyd deel van haar niggie se lewe sal kan wees.
Ian se familie onthou hom as iemand met ’n wonderlike humorsin wat altyd ’n manier gehad het om dinge vir ander mense beter te maak.
Sy dood het sy geliefdes laat worstel met die verlies van ’n jong man en pa wie se lewe geëindig het net toe ’n nuwe hoofstuk begin het.
Familie doen ’n beroep op die publiek om hulp
Vriende en sy gesin het ‘n BackaBuddy-fonds met die naam “Memorial Service for Ian” gestig. Sy suster Jolene Visagie sê die geld sal gebruik word vir onder meer die roudiens se kostes, kos, blomme, boekies en sovoorts. “As daar geld oorbly sal dit gebruik word vir die uitgawes wat Ian betaal het soos Tilara se skoolfonds. Hy en Elisma het elkeen ‘n gedeelte gehad wat hulle betaal elke maand. Extras sal dan ook in Tilara se spaar rekening gebêre word.
Reëlings vir gedenkdiens
Ian se gedenkdiens vind na verwagting op Saterdag 31 Oktober om 11:00 by die NG Kerk Welkom-Suid plaas.
LEES OOK: Child rapist sentenced to life after 4-year-old victim’s historic testimony










