Inwoners van Kroonstad se Jordaniapark-aftreeoord het onlangs die eerste vrugte van hul Poppies vir liefde-projek oorgedra toe handgemaakte poppe aan die Maokeng-sentrum vir kinders met gestremdhede geskenk is.
Die projek word deur die vroue van die aftreeoord gedryf en fokus daarop om gebreide poppe as simbool van liefde, ondersteuning en hoop aan kinders in jeugsorgsentrums en kinderhuise te skenk.

Volgens Alta Els, eienaar van die aftreeoord, het die vroue besluit om die projek te begin as ‘n manier om iets betekenisvols te skep wat kinders kan koester.
“Ons wou iets met ons hande maak wat vir kinders wys dat hulle geliefd is en dat daar mense is wat aan hulle dink,” sê sy.
LEES OOK: ‘Ons as gemeenskap moet saamstaan vir verbetering’
Tot dusver is reeds sowat 250 poppies met groot toewyding gebrei. Die eerste skenking is vroeg in April aan die kinders van die Maokeng-kindersentrum oorhandig.
Els sê die poppe dien as meer as net speelgoed – dit is ‘n tasbare simbool van sorg en betrokkenheid, en ‘n herinnering aan elke kind dat hulle nie vergeet word nie. Elke pop word met sorg gemaak, met helder kleure, om ‘n boodskap van liefde oor te dra.
Enigeen wat weet van kinders of instansies wat by die projek kan baat, word aangemoedig om die aftreeoord te kontak.





You must be logged in to post a comment.